VAN WYKSDORP-NUUS - Die 17-jarige verdagte, wat in verband met die moord en verkragting van ’n 79-jarige vrou op Van Wyksdorp in hegtenis geneem is, verskyn môre, 16 Julie, in die landdroshof in Ladismith.
Valerie Enzer, wat alleen op die plaas gewoon het, se liggaam is deur ’n plaaswerker op haar stoep gevind. Sy het 18 jaar alleen in haar huis gewoon.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die Ladismith-polisie ’n moorddossier geopen nadat die liggaam van ’n 79-jarige vrou op Maandag 14 Julie omstreeks 09:00 op die stoep van haar woning in Van Wyksdorp naby Ladismith gevind is.
“Die ondersoek het gelei tot die arrestasie van ’n 17-jarige seun. Hy bly in polisie-aanhouding. Die omstandighede rondom haar dood vorm deel van ’n voortgesette polisie-ondersoek. ’n Nadoodse ondersoek om die oorsaak van dood te bepaal, sal later uitgevoer word. Die uitstaande verslag vorm deel van die voortgesette ondersoek.”
Sy is na bewering wreed vermoor en glo ook verkrag.
Sy was 'n goeie mens
’n Inwoner van Wyksdorp, wat verkies om anoniem te bly, het Dinsdag 15 Julie gesê dat die dorp in absolute skok en afgryse gedompel is na die wrede moord op Enzer.
“Sy was ’n lieflike vrou met ’n vreeslike mooi hart. Sy het nie verdien om so te sterf nie.”
Volgens haar het die 17-jarige verdagte ’n lang misdaadrekord en is hy in die gemeenskap bekend vir moeilikheid maak.
“Hy gee net niks om vir sy medemens nie.”
Hou Oudtshoorn Courant dop vir meer hieroor.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’