OUDTSHOORN NUUS - Oudspelers van die Uni-Spurs-netbal-span, 'n voormalige netbalklub van Oudtshoorn, het onlangs by De Bakke in Mosselbaai bymekaargekom vir 'n reünie om 40 jaar sedert die stigting van die klub te vier.
Volgens Marilyn Meyer, een van die voormalige klublede, was die geleentheid besonder spesiaal.
Hoewel die klub reeds in 1992 ontbind het, probeer die oudlede om minstens elke tweede jaar bymekaar te kom.
"Ons was 'n gedugte span. Ons was almal jongmense wat destyds in Oudtshoorn gewoon het. Nou is ons oor die land versprei, en lede het van so ver as Atlantis en Johannesburg gekom om die reünie by te woon," vertel Meyer.
Die oudspanmaats het tydens die byeenkoms kosbare herinneringe herleef en hulde gebring aan voormalige spanlede wat oor die jare heen oorlede is.
Hulle is Shirleen Bowkers, Elizabeth Hendricks Pypers, Maria May, Elizabeth Malgas, Rosemary Barnard-Weyers, Deidre Wagenaar-Claassen en Maria de Laan-Melight.
"Dit is altyd lekker om weer saam met ou vriende te kuier en die mooi en goeie tye te onthou," sê Meyer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’