OUDTSHOORN NUUS - 'n Moord Sondagoggend, 29 September, waartydens een broer 'n ander doodgesteek het, het skokgolwe deur die gemeenskap van Dassieweg, Bridgton gestuur.
"Die Oudtshoorn-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) ondersoek 'n moord waarby twee broers Sondag 29 September omstreeks 10:40 by Dassieweg, in Bridgton betrokke was. Pieter Mawona (54) is op die toneel dood. Sy broer, Moos Mawona (50) is in verband met die moord in hegtenis geneem," het sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, bevestig.
'n Groot skare nuuskieriges het Sondagoggend in Dassieweg by die toneel waar die moord plaasgevind het, saam gedrom,
Die polisie is glo kort na die moord na die toneel ontbied ná 'n onderonsie tussen die twee broers. Met hul aankoms het hulle die lyk van 'n man met 'n steekwond aan sy rug gevind. Die slagoffer is deur paramedici op die toneel dood verklaar.
Die omstanders, waarvan baie kinders was, was deurentyd op die toneel, wat deur polisie en forensiese deskundiges met geel linte toegespan was.
Familie van Pieter en Moos het Dinsdag gesê dat hulle geweldig ontsteld is oor die voorval en wou nie juis oor die moord uitbrei nie.
Hulle het hul hul skok en ongeloof uitgespreek en gesê dat die twee broers nooit werklik vasgesit het nie en dat hul geensins verstaan wat Sondagoggend verkeerd geloop het nie.
Volgens een van die familielede was daar ook nie drank by betrokke. Die familie sê dat Pieter en Moos in Dassieweg groot geword het en is dit eens dat Pieter baie geliefd en gewild was in die gemeenskap.
Mawona het Dinsdagoggend, 1 Oktober, in die Oudtshoorn-landdroshof op aanklag van moord verskyn. Teen saktyd was die uitsteldatum nog nie bekend nie. Die begrafnisreëlings is ook nog nie vasgemaak nie aangesien daar nog familie vanuit die Kaap op pad is wat moet help met die reëlings.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’