OUDTSHOORN NUUS - Carlheim Witbooi (33), wat sy 64-jarige ma, Shirley Witbooi, in 2022 in hul huis in Smartie Town, Oudtshoorn, met ’n byl vermoor het, is Donderdag 9 April in die Oudtshoorn-streekhof aan moord skuldig bevind en tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.
Die staat het sy saak gesluit ná die getuienis van adjudant-offisier Wilfred Apollis. Apollis het getuig dat Christopher Witbooi, broer van die beskuldigde, hom by sy aankoms op die toneel meegedeel het dat Carlheim hul ma doodgemaak het. Hy het kort daarna die bebloede liggaam van ’n vrou in die sitkamer van die woning aangetref.
Christopher het egter later tydens sy getuienis in die hof beweer dat sy broer nie verantwoordelik was vir hul ma se dood nie en dat iemand anders daarvoor aanspreeklik moes wees.
Op ’n vraag van staatsaanklaer Mervan Saaiman oor moontlike gemeenskapswoede tydens die arrestasie, het Apollis gesê hy was nie daarvan bewus nie. Hy het slegs ’n verklaring by ’n buurman geneem en daarna die toneel verlaat, aangesien hy nie die ondersoekbeampte was nie.
Carlheim het tydens sy eie getuienis erken dat hy op 1 September 2022, terwyl hy en sy ma, Shirley Witbooi, alleen tuis was, haar een of twee keer met ’n byl teen die kop gekap het nadat ’n argument tussen hulle ontstaan het. Hy het daarna die huis verlaat en die deur agter hom toegemaak.
Sy pa, Karel Witbooi, het vroeër getuig dat hy toe hy tuisgekom het, sy vrou se bebloede liggaam op die sitkamervloer aangetref het.
In ’n slagofferimpakverklaring, wat deur die staatsaanklaer voorgelees is, het hy gesê hy mis haar geweldig, aangesien sy hom, weens sy rolstoelgebonde toestand, met alles gehelp het. Hy sukkel steeds om met haar dood vrede te maak en sy gesondheid het sedertdien verswak.
’n Familielid, Felicia Piedt, het tydens strafversagting die hof versoek om genade te betoon. Volgens haar het die familie die beskuldigde vergewe en was hy nog altyd behulpsaam en ondersteunend. Sy het ook gesê dat Witbooi en sy ma ’n liefdevolle verhouding gehad het.
Saaiman het die hof egter versoek om nie van die minimum voorgeskrewe vonnis af te wyk nie, aangesien die moord uiters wreed was en die beskuldigde geen werklike berou getoon het nie. Volgens hom het Witbooi tot die einde volgehou dat hy onskuldig is.
Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê die hof het Witbooi aan ’n grusame moord skuldig bevind en dat die gebruik van ’n byl die erns van die misdaad verder verswaar. Die hof kon geen wesenlike of dwingende omstandighede vind wat ’n ligter vonnis as lewenslange gevangenisstraf regverdig nie.
Witbooi is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapenlisensie te bekom en is ingelig dat hy binne 14 dae teen die vonnis kan appelleer.
Vorige bertigte:
- Vermeende bylmoordenaar in 2026 verhoor
- Vrou sterf gru-bylmoord in haar huis
- Vrou dood in plas bloed by haar huis ontdek
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’