OUDTSHOORN NUUS - Die vergadering van Sektor 3 se Gemeen-skapspolisiëringsforum (GPF), wat die sentrale sakekern insluit, op Dinsdag 10 Maart, is oorheers deur gesprekke oor kinders op straat en volwassenes wat bedel en mense lastig val. Dit blyk dat die probleem besig is om te eskaleer en dringende ingryping van owerhede verg.
Verskeie lede van die GPF en die hoof van sigbare polisiëring, kol. Winston Kiewiets, het die uitdagings bespreek en na moontlike oplossings gekyk.
Die totstandkoming van die sentrum waarheen kinders deur die dag geneem kan word en die rol wat die department van maatskaplike ontwikkeling speel, is 'n positiewe stap vorentoe. Hoewel die sentrum skaars 'n week operasioneel is, is daar verlede week reeds 'n hele aantal kinders daarheen geneem.
Tydens die vergadering het dit duidelik geblyk dat die gedrag van sommige van die jeugdiges wat sonder toesig dorp toe kom en in woonbuurte ronddwaal, toenemend aggressief raak.
Verskeie sprekers het voorvalle genoem waar inwoners en toeriste geteister en gedreig word. In een so 'n voorval is 'n vrou glo in die teenwoordigheid van haar man deur 'n groepie kinders gedreig dat hulle haar gaan verkrag. Die egpaar het die voorval by die polisie aangemeld en is versoek om dit met die stasiebevelvoerder op te neem.
Voorvalle waar toeriste en motoriste voorgekeer word en vir geld gevra word is aan die orde van die dag. Een van die GPF-lede het genoem dat daar selfs voorvalle was waar toeriste voorgekeer is en daar van hulle verwag was om na 'n OTM te gaan om geld vir bedelaars te trek. In sommige gevalle verhinder jeugdiges en volwasse karwagte besoekers om weg te ry.
Daar is kommer uitgespreek dat voorvalle soos hierdie 'n negatiewe invloed op toerisme het en dat sommige eetplekke met hulle hande in die hare sit omdat spesifieke individue gereeld voor die eetplekke wag en dan gaste intimideer as hulle uitkom.
Vrae oor wetstoepassing, die rol van ouers en skole
Die vraag wat gereeld deur verskeie mense geopper is, was waarom munisipale ordonnansies nie strenger toegepas word om bedelaars en kinders op straat aan te spreek nie. Kiewiets het daarop gewys dat die polisie onderworpe is aan streng maatreëls wanneer kinders wat sonder toesig is, betrokke is. Hy het ook versoek dat daar nie tydens die vergadering na straatkinders of kinders op straat verwys word nie, maar eerder na kinders sonder toesig.
Dir rol van ouers en skole is ook onder die loep geneem. Daar is gevra waarom ouers nie verantwoordelik gehou kan word as hulle kinders op straat ronddwaal nie.
"Al die kinders op straat, het huise, maar hulle wil nie daar wees nie en baie van hulle wil ook nie by die skool wees nie," het een van die lede gesê en ook genoem dat kinders soms skole belet word omdat hulle laat kom of as gevolg van swak gedrag nie toegelaat word nie.
"Daardie kinders is dan op straat waar hulle kwaad doen, en die oplossing lê nie net by een organisasie nie, dit is 'n sosiaal maatskaplike kwessie wat deur al die betrokkenes aangepak moet word, en ouers is vir my die belangrikste rolspeler."
Die GPF het onderneem om 'n skrywe aan die munisipale bestuurder te rig met 'n dringende versoek dat ordonnansies (bywette) streng en volhoubaar toegepas moet word. Daar word ook 'n skrywe aan die onderwysdepartement gerig om die kringbestuurder uit te nooi na 'n vergadering oor kinders wat tydens skooltye op straat is.
Moenie geld gee nie
Inwoners en besoekers word dringend gevra om geen geld aan kinders of volwasse bedelaars en selfaangestelde karwagte te gee nie, aangesien dit hulle op straat hou omdat dit lonend is. 'n Verdere beroep word op mense gedoen om enige voorval onmiddellik by die polisie aan te meld aangesien die polisiekantoor 24 uur elke dag oop is om voorvalle aan te meld en verklarings af te lê, het Kiewiets gesê.
Vorige berigte:
- Fasiliteit gevind vir kindersorgsentrum in Oudtshoorn
- Hulp gevra om sentrum op te rig
- Straatkind veroorsaak chaos in middedorp
- Alle rolspelers moet om die tafel sit
- Inwoners keelvol vir sosiale probleme in Oudtshoorn
- Wie sit kos op die tafel?.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’