OUDTSHOORN NUUS - Die skoolhoof van De Villiers Primêr, Granville Josephs (60), het verlede week in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn op aanklag van crimen injuria en aanranding.
Volgens die klagstaat het die beweerde voorvalle op 11 De-sember 2025 plaasgevind en was dit glo gerig teen 'n 26-jarige vrou wat ook by die skool werksaam is.
Josephs is verlede Maandag in hegtenis geneem.
Die staatsaanklaer, Leandré Rhodes-Mei, het nie die verdediging se versoek dat Josephs op borgtog vrygelaat word, teengestaan nie. Die landdros het bevind dat dit in belang van geregtigheid is dat hy vrygelaat word op voorwaarde dat hy geen kontak met staatsgetuies het nie. Die saak is vir verdere ondersoek tot 5 Maart uitgestel.
Josephs is intussen terug by die skool.
Volgens Millicent Merton, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, is die departement bewus van die klagtes teen die skoolhoof en het hulle bevestig dat hy weer by die skool aan diens is. Sy sê die departement is tans besig met 'n ondersoek.
"Bewerings van hierdie aard word in 'n ernstige lig beskou en hangende die uitslag van die ondersoek sal verdere stappe bepaal word, insluitend dissiplinêre optrede indien dit geregverdig is. Die klaer is verwys na die Werknemerswelstandsprogram vir die nodige ondersteuning," sê Merton.
Volgens haar is die onder-wyseres tans met verlof. "Sy is voor haar verlof gevra om nie die voorval met ander opvoe-ders of kollegas te bespreek nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’