OUDTSHOORN NUUS - Borgtog is verlede Dinsdag in die Oudtshoorn-landdroshof aan Jacobus Nuys (31) van Rosebank, Oudtshoorn, geweier. Hy staan tereg op aanklag van huisbraak met die opset om te steel en diefstal.
Nuys het op 21 Mei by 'n stoor van die NG Moederkerk ingebreek en 'n slypmasjien ter waarde van R1 200, 'n boor ter waarde van R1 200 en nog ander gereedskap ter waarde van R600 gesteel.
Hy het dit daarna vir R200 verkoop.
Die staatsaanklaer, Leanie Visagie, het borgtog teengestaan omdat Nuys al by ses vorige geleenthede paroolvoorwaardes verbreek het en 'n geneigdheid toon om misdaad te pleeg. Hy is al van 17-jarige ouderdom by misdaad betrokke.
Die saak dien voor landdros Zuastrid Deyce en is vir verdere ondersoek tot 16 Julie uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’