OUDTSHOORN NUUS - ’n Intelligensiegedrewe operasie, gemik op die bekamping van dwelmhandel in Oudtshoorn, het Sondag 8 Junie tot die inhegtenisneming van drie verdagtes en die konfiskering van Mandrax-tablette gelei.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, sers. Chris Spies, vorm die klopjagte deel van voortgesette pogings deur die Tuinroete-distrik se misdaadbestrydingspan, in same-werking met misdaadintelligensie, om sogenaamde dwelmwinkels in woongebiede te bloot te lê en te sluit.
Die eerste klopjag het Sondag omstreeks 15:00 by ’n huis in Gemsboklaan, Bridgton, plaasgevind. Polisiebeamptes het die woning deursoek en 131 Mandrax-tablette onder ’n kussing gevind. ’n 30-jarige man is op die toneel gearresteer en die dwelms is gekonfiskeer.
’n Paar uur later is ’n tweede operasie by ’n perseel in Dahliahof uitgevoer waar ’n 16-jarige seun in besit van tien Mandrax-tablette betrap is. Hy is in hegtenis geneem en daar is op die dwelms beslag gelê.
Die laaste klopjag het by ’n woning in Dassieweg plaasgevind, waar ’n klein hoeveelheid Mandrax gevind en gekonfiskeer is. ’n 31-jarige verdagte is in verband met dié voorval gearresteer.
Al drie verdagtes is in polisie-aanhouding geplaas en sal na verwagting binnekort in die Oudtshoorn-landdroshof op aanklag van besit van dwelms verskyn.
Die polisie het beklemtoon dat sulke operasies sal voortgaan om misdaad en die verspreiding van dwelms in gemeenskappe hok te slaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’