OUDTSHOORN NUUS - Kleurvolle blomme in 'n droë kanaal was die stille getuienis van familie en vriende van Janine Stander se rou en seer.
Janine (39), eggenoot van Ryan Stander en ma van drie seuns, se liggaam is op 23 Sep-tember in 'n kanaal in buite Oudtshoorn ontdek. Dit was reeds in 'n gevorderde stadium van ontbinding.
Sy het op 15 September vermis geraak nadat sy die middag haar huis verlaat het, en is amptelik op 18 September deur familie as vermis aangemeld.
'n Grootskaalse soektog deur lede van die gemeenskap en die polisie is van stapel gestuur na die polisie skoene en sokkies van haar langs die kanaal gevind het. Haar liggaam is vyf dae later, etlike kilometers van waar die kledingstukke gevind is, gekry.
Kranslegging
Meer as 200 mense, waaronder familie, vriende en gemeenskapsleiers het die kranslegging bygewoon.
Die verrigtinge het plaasgevind langs die kanaal op die plek waar van haar klere gevind is.
Plaaslike geestelike leiers, gemeenskaps-leiers en lede van Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) het almal boodskappe van medelye en ondersteuning oorgedra.
"Hierdie is een sterfte te veel. Ons weet nog nie wat hier gebeur het nie. 'n Gesin en familie is nou sonder 'n vrou, ma, dogter, suster of niggie. Ek vra die gemeenskap om saam te werk, as jy enige inligting het oor wat met Janine gebeur het kontak die polisie, ons kan nie die saak net hier laat nie. Iemand moet weet wat gebeur het," het Leon Campher van OCAC gesê.
Na afloop van die formele verrigtinge en die kranslegging is blomme in die kanaal gestrooi.
Oorsaak van dood nog nie bepaal
Tot op hede kon die polisie nie die oorsaak van haar dood bevestig nie.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Christopher Spies, het by navraag gesê dat die polisie 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek geopen het.
"Die ondersoek rakende die oorsaak van haar dood word nog ondersoek. Die nadoodse ondersoek is voltooi en die uitstaande verslag vorm deel van die voortgesette polisieondersoek."
Janine se begrafnis vind Sondag 5 Oktober om 11:00 op Buffelsdrift plaas.
Fotogalery: Blomme in die kanaal: 'n Stille getuienis van hartseer
Vorige berigte:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’