Update
OUDTSHOORN NUUS - Die soektog na die vermiste Janine Stander (39) van Oudtshoorn, het Dinsdag 23 September tot 'n tragiese einde gekom toe haar liggaam in 'n kanaal in Volmoed naby Oudtshoorn ontdek is.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die polisie omstreeks 10:00 na die toneel ontbied nadat 'n lid van die publiek die liggaam opgemerk het. Polisieduikers het die liggaam later uit die water verwyder.
"Ten tyde van die ontdekking was die vrou in 'n blou jean en 'n bruin hemp geklee en reeds in 'n vroeë stadium van ontbinding," het Spies bevestig.
Volgens hom het die Oudtshoorn-polisie 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek geopen.
"'n Nadoodse ondersoek om die oorsaak te bepaal, sal later hierdie week uitgevoer word. Die uitstaande verslag vorm deel van die voortgesette polisie-ondersoek."
Die Tuinroete-distrikskommissaris, generaal-majoor Phumzile Cetyana, het al die rolspelers wat deel was van die soekgeselskap, sowel as die publiek, bedank vir hul hulp tydens die soektog.
Volgens Ryan Stander, Janine se man, het sy op 15 September na 'n vrou se huis gegaan. Die volgende dag het hy besef dat sy nooit huis toe gekom het nie.
"Ek het gedink dat sy dalk moontlik by iemand oorgeslaap het, maar ons kon haar nêrens kry nie. Ek het die Dinsdag eers uitgevind dat sy by 'n klub was," het hy vertel.
Beeldmateriaal van 'n geslotekring-televisie wys waar sy die Wickit-sportkroeg in die vroeë oggendure van 16 September verlaat het. Sy is op 18 September amptelik as vermis aangemeld.
Polisie het kort daarna inligting ontvang dat vroue kledingstukke langs die kanaal op die Safari-pad buite Oudtshoorn gevind is. Die polisie se honde-soek-en-reddingseenheid, sowel as die duikeenheid, het die kanaal en omliggende gebiede sonder sukses deursoek.
Lede van die Oudtshoorn Community Against Crime en Ryan, het Maandag 22 September self ook in die gebied na haar gesoek. Dinsdag 23 September het dit bekend geword dat haar liggaam in die kanaal op Volmoed, etlike kilometers van waar die klere gelê het, gevind is. Ryan het sy vrou beskryf as 'n liefdevolle en barmhartige mens. "Sy was die toonbeeld van liefde en het altyd geglimlag. Sy het 'n passie vir kinders gehad verál haar eie kinders.
"Die feit dat sy nie terug gekom het nie was vreemd. Sy het nog nooit nié huis toe gekom nie."
Ryan sê hy was vol hoop dat hulle haar lewend sou kry, selfs toe van haar klere langs die kanaal op die Safari-pad ontdek is. "Ek het vir die soekspan gesê dis net klere, sy kan nog leef. Selfs toe ek hoor van die liggaam, het ek nog gehoop dit is nie sy nie. Maar toe die polisie my 'n oorbel bring en vir my 'n foto van die tatoeëermerk op haar arm wys, het ek geweet dis Janine." Ryan en Janine was sowat 20 jaar saam, waarvan hulle 11 jaar getroud was. Hul seuns is 18, 15 en nege jaar oud.
Hy sê sy jongste was baie na aan sy ma en vat haar dood besonder swaar. "Dit was 'n verskriklike moeilike boodskap om aan my kinders en familie oor te dra," het Ryan bygevoeg.
Die oorsaak van haar dood kon nog nie bepaal word nie en niemand is ook nog in hegtenis geneem nie. Behalwe vir haar man en kinders laat sy ook haar ouers, drie susters en twee broers agter.
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’