Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen Gerda en James Tait, Wayne Ellis en Johann Scholtz, wat verband hou met die beweerde aanranding van drie kinders, is Woensdag 15 April in die Oudtshoorn-landdroshof tot 13 Mei uitgestel om in die streekhof te verskyn.
Die voorval het 13 Februarie in Van der Rietstraat plaasgevind.
Gerda en James Tait, en Wayne Ellis is op 26 Februarie elk op borgtog van R5 000 vrygelaat nadat hulle in hegtenis geneem is. Johann Scholtz, die vierde beskuldigde, is borgtog geweier aangesien hy ten tyde van die voorval op parool was.
Lourens Swanepoel, regsverteenwoordiger van die vier beskuldigdes, het die hof versoek om twee van die borgtogvoorwaardes wat op die Gerda, James en Wayne van toepassing is, te wysig.
Volgens die oorspronklike borgtogvoorwaardes moes hulle weekliks by die polisiestasie aanmeld en kon hulle nie die munisipale gebied van Oudtshoorn verlaat sonder toestemming van die ondersoekbeampte nie.
Swanepoel het aangevoer dat al drie beskuldigdes voltydse werk het en gereeld die dorp vir werksdoeleindes moet verlaat.
Die staatsaanklaer, Thuba Nyanate, het aangedui dat die staat geen beswaar teen die wysiging van die twee voorwaardes het nie. Landdros Ntombi Zandile Maseti het daarna beslis dat die twee borgtogvoorwaardes opgeskort word, terwyl alle ander borgtogvoorwaardes steeds van krag bly.
Dit sluit in dat hulle nie by ander misdrywe betrokke raak nie, nie met getuies inmeng nie en nie op sosiale media kommentaar lewer nie.
Vorige berigte:
- Borgtog van R5 000 toegestaan
- Borgtog van aanrandingsaak begin vandag
- Derde persoon vas na aanranding-voorval
- Third assault suspect in court
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’