OUDTSHOORN NUUS - ’n Derde persoon is vanoggend, 16 Februarie, in hegtenis geneem kort nadat die twee beskuldigdes wat die afgelope naweek in verband met die aanrandingsvoorval in Van der Rietstraat gearresteer is, in die hof verskyn het.
Gerda Tait en Johann Scholtz het vanoggend vir die eerste keer in die hof verskyn op drie aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Die hofgalery was stampvol toe die beskuldigdes voor die hof gebring is.
Hul inhegtenisneming volg nadat ’n video Vrydag op Facebook geplaas is waarin gesien kan word hoe ’n vrou met ’n sambok na kinders slaan. Twee mans is in die video langs haar sigbaar, waarvan een ’n verfbalgeweer in sy hand hou.
Die saak is tot 23 Februarie vir ’n formele borgtogaansoek uitgestel.
Die derde man wat vandag in hegtenis geneem is, staar klagtes van aanranding met die opset om ernstig te beseer, menseroof en poging tot moord in die gesig. Dit is nog nie bevestig wanneer hy in die hof sal verskyn nie.
Hoewel die klagtes teen Tait en Scholtz oor die naweek na poging tot moord verander is, is daar bevestig dat hulle tans slegs op aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer teregstaan.
Die klagtes kan egter weer verander.
Verskeie belangstellendes, insluitend drie lede van die parlement wat deel is van die polisie se portefeuljekomitee, het die hofverrigtinge bygewoon.
Hofgangers het ná die uitstel hul misnoeë oor die voorval uitgespreek. Die ouers van die betrokke kinders was ook in die hof teenwoordig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’