OUDTSHOORN NUUS - Swans Hardware het oor die afgelope vyf dekades ontwikkel tot 'n bekende en gerespekteerde naam in Oudtshoorn, met diep wortels in die plaaslike gemeenskap.
Die onderneming is 'n gevestigde familiebesigheid wat met trots die Oudtshoorn-gemeenskap bedien en vier op 1 April hul 50ste bestaansjaar.
Die onderneming is deur André Swanepoel en sy vrou Ingrid as 'n klein winkel in Hoogstraat, waar Swans Staal vandag nog funksioneer, begin. Met verloop van tyd het die besigheid gegroei tot 'n betroubare plaaslike naam, bekend vir persoonlike diens en 'n opregte omgee vir die gemeenskap.
"Die winkel in Hoogstraat het eenvoudig te klein geword, wat ons genoop het om na 'n groter perseel in Golfstraat, waar ons tans geleë is, te skuif. Hier het die besigheid vinnig gegroei, en ek het die perseel geleidelik uitgebrei soos die onderneming ontwikkel het," vertel André.
Swans Staal bly steeds oop, waar inwoners gereedskap, staalprodukte en gas kan bekom.
Die naam "Swans" is afkomstig van die familienaam Swanepoel en die besigheid is gebou op eerlikheid, sterk familiewaardes en uitstaande kliëntediens.
As deel van hul 50 jaar-vieringe beplan die winkel om sekere produkte teen hul oorspronklike pryse van vyf dekades gelede aan te bied. "Destyds het 'n sak sement net een pennie gekos, en ons het skroewe en spykers los in kardoessakkies verkoop."
Hy onthou ook hoe gaskanne per fiets by kliënte afgelewer is.
"Interessant genoeg is ons weer besig om op 'n manier terug te beweeg na die ou manier van doen en word items soos skroewe en spykers weer los verkoop en geweeg."
André sê die pad was nie altyd maklik nie en dat baie hardewarewinkels oor die jare gekom en gegaan het.
"Om 'n besigheid soos hierdie aan die gang te hou verg harde werk, deursettingsvermoë en die vermoë om by nuwe tendense aan te pas.
'n Betroubare span kundiges en rolspelers met die regte ervaring en bevoegdheid is van kardinale belang om uitdagings suksesvol te bestuur en langtermyngroei te verseker. Daarbenewens speel personeel 'n kernrol in die daaglikse bedrywighede en die algehele sukses van die onderneming."
Vandag is André, tans 75, Ingrid en hul seuns steeds aktief besig om die familietradisie voort te sit. Een van sy seuns vertel dat hy reeds op sewejarige ouderdom sy eerste kliënt gehelp het en dat hulle letterlik in die winkel grootgeword het.
"Ons ouers het verskeie ondernemings gehad, onder meer The Godfather Restaurant, Hanley's Bloemiste en Swans Kwekery. Besigheid was nog altyd deel van ons lewe."
Oor die jare het Swans Hardware ontwikkel tot veel meer as net 'n hardewarewinkel - dit het 'n integrale deel van Oudtshoorn se geskiedenis en gemeenskapslewe geword.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’