Advertorial
OUDTSHOORN SAKENUUS - Fanie's Bakwerke het in Februarie hulle 35ste bestaansjaar en puik diens aan kliënte gevier.
Fanie Fourie het reeds in 1996 by die onderneming wat deur sy pa begin is, aangesluit.
"Ek het die voorreg gehad om vir 10 jaar saam met hom te werk tot sy dood in 2006," sê Fanie. "Ek is dankbaar vir my lojale personeel wat my vertrou om die skip deur hierdie moeilike tye te stuur en al die pad bankvas agter my staan."
Hy sê die afgelope 35 jaar het hulle geleer om gedurig aan te pas en innoverend te dink.
Die afgelope jaar se Covid-uitdagings het ons ook weereens uitgedaag en gedwing om buite ons besighede te staan en uit 'n ander hoek te kyk.
As mens na die diensjare kyk waarvoor die werknemers erkenningsertifikate ontvang het, is dit duidelik dat Fanie's Bakwerke 'n uiters lojale span het. Hans Rheeder, wat verlede jaar afgetree het, het 33 jaar diens gehad en dan is daar Klaas Fourie met 25 jaar diens, drie werkers is reeds 20 jaar in diens, een het 15 jaar, een 10 jaar en drie het vyf jaar elk. As Fanie vir homself 'n sertifikaat kon gee sou syne ook vir 25 jaar diens wees.
Vir Fanie gaan sukses nie net hand-aan-hand met goeie en betroubare diens nie, maar ook met die lojale ondersteuning van klante en vir hulle het hy ook 'n boodskap:
"Graag wil ek vir elke liewe een van ons kliënte, vriende, voertuighandelaars, versekeringsmakelaars en hul klerke baie dankie sê vir al die jare se getroue ondersteuning, sonder julle sou hierdie mylpaal nie moontlik gewees het nie. Ons staan reg vir die uitdagings voor ons en is reg om tot u diens te wees."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'