OUDTSHOORN NUUS - KKEB en sy filiale, wat onder andere Klein Karoo Agri (KKA) en Klein Karoo Saad (KKS) insluit, het Vrydag 22 November hul algemene jaarvergadering by hul hoofkantoor in Oudtshoorn gehou.
KKEB, KKA en KKS het kortliks verslag gedoen oor die afgelope jaar se finansiële resultate, uitdagings, oplossings, asook die toekoms van landbou in die Klein-Karoo.
Die totale omset vir die 2024-finansiële jaar is die hoogste ooit en beloop R1,98 miljard.
Volgens die voorsitter, Johannes Delport, was omstandighede die afgelope twee jare beter as vorige jare.
Reënval was beter as vorige jare en kon produsente hul boerderyaktiwiteite met voldoende water voortsit.
Wat landbou in die land betref was daar groot uitdagings soos bek-en-klouseer, hoë rentekoerse, logistieke uitdagings, veral in die hawens, maar het die Klein Karoo Groep uitstekend in die omstandighede gepresteer.
'n Interessante feit wat hy gedeel het is hoeveel maatskappye daar in veral Japan is wat al meer as 100 jaar sake doen, familiebesighede wat van generasie na generasie oorgedra word.
"Ons besigheid is volgende jaar 80 jaar oud."
Pieter Barnard, KKEB bestuurder dui aan: Boerdery is 'n professie van hoop en geloof. Uitdagings is 'n realiteit, maar hiervoor is Klein Karoo Eiendoms Beperk (KKEB) en sy filiale gereed met dinamiese en realistiese geleenthede vir alle produsente.
Klein Karoo Saad (KKS): David Malan, besturende direkteur van KKS, dui aan dat die toename in saadproduksie oppervlaktes, beter realisasie van gekontrakteerde oppervlaktes, beter pryse uit die mark en uitstekende opbrengste wat produsente behaal het, aanleiding gegee het tot uitstekende groei in die omset van KKS.
Vanjaar is ‘n aanvullende betaling van R55 miljoen aan saadprodusente gemaak, wat die grootste aanvullende betaling tot op hede is.
Klein Karoo Agri (KKA): Terblanche du Plessis, besturende direkteur van KKA, dui aan dat KKA ‘n uitsonderlike goeie jaar beleef het en dat strategiese besluite op die regte tye tot goeie resultate bygedra het. Die 2024-finansiële jaar was ‘n jaar met nuwe rekords ten opsigte van omset, netto wins en lojaliteitsuitbetalings.
“Die lojaliteitsbetaling van R9,6 miljoen is die grootste in die geskiedenis van KKA en bevestig die deurlopende ondersteuning van produsente.”
Gasspreker: Ryk van Niekerk
Die gasspreker tydens die geleentheid was die gesoute finansiële joernalis en redakteur van Moneyweb en aanbieder van RSG Geldsake, Ryk van Niekerk. In sy aanbieding het hy beklemtoon dat die sukses van die regering van nasionale eenheid kritiek vir SA se toekoms is.
“Dit sal daarvan afhang of die partye binne die RNE die nodige toegewings oor beleidsturksvye soos die NGV en die Bela-wet kan maak.”
Hy het ook gesê dat ekonomiese groei tans voortploeter en net sal versnel indien daar wesenlike belegging in die ekonomie plaasvind. Hy het KKEB en filiale gelukgewens met die wyse hoe hulle hulself suksesvol posisioneer om landbou te ondersteun.
Vorige artikels:
- Dit gaan goed met landbou in Oudtshoorn
- Jaarlikse saadproduksie geleentheid 'n groot sukses
- Jou eie! sentrum amptelik open
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’