Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die splinternuwe winkelsentrum in Parkweg, JOU EIE! SENTRUM, se deure is dié week amptelik een week oop.
Die span van Klein Karoo Agri het verlede Woensdag die sentrum offisieel tydens 'n spesiale geleentheid vir uitgenooide gaste geopen. Inwoners kon Donderdag 31 Oktober vir die eerste keer by die nuwe winkels inkopies doen.
Die sentrum behoort aan Klein Karoo Agri wat al langer as 75 jaar deel van Oudtshoorn en die gemeenskap is.
Terblanche du Plessis, besturende direkteur van Klein Karoo Agri, sê die beplanning van die sentrum het verlede jaar 'n aanvang geneem toe hulle die eiendom by Klein Karoo Eiendoms Beperk gekoop het.
"Hierdie sentrum is ontwikkel deur 'n plaaslike besigheid vir die plaaslike inwoners."
Die naam, JOU EIE! SENTRUM, weerspieël Klein Karoo Agri se leuse, 'Jou Eie', en die lewendige geel, blou en grys kleure van die handelsmerk simboliseer hoop, water en die berge wat kenmerklik aan die Klein-Karoo is.
"Ons het die sentrum so ontwerp dat elke klant wat hier inkopies doen, voel dat dit werklik hul eie plek is," sê Du Plessis.
Du Plessis sê hulle wou 'n verskeidenheid winkels en dienste onder een dak bied vir die gerief van die inwoners.
"Die belangrikste is dat dit lekker en gerieflik vir die kliënte moet wees om hier hulle inkopies te kom doen."
Die ontwikkeling is nie net 'n nuwe aanwins vir die dorp nie, maar het ook groot ekonomiese waarde toegevoeg met die skepping van 162 nuwe werksgeleenthede, waarvan meer as 80% deur inwoners van Oudtshoorn en omliggende gebiede gevul is.
Marnelle Steyl, hoof finansiële beampte van Klein Karoo Agri, het tydens die opening gesê: "By Klein Karoo Agri het ons 'n gesegde: As jou drome jou nie bang maak nie, is jou drome nie groot genoeg nie." Hierdie is 'n groot geleentheid wat vir Klein Karoo Agri moontlik gemaak is.
Klein Karoo Agri het ook sy eie teenwoordigheid in die sentrum uitgebrei met 'n vergroting van die handelstak (MICA), 'n Vida e Caffè-koffiewinkel, die CASE landbou- en konstruksie-agentskappe, asook Suzuki Oudtshoorn.
Onder die bestaande huurders wat bydra tot die sentrale karakter van JOU EIE! SENTRUM is Tyremart, Cycle Addict, Klein Karoo Agri Meganisasie en Besproeiing, Klein Karoo Karwas, Karoo Tuin Kwekery en KarooBrou Restaurant. Die nuwe toevoegings is Spar en Tops, Clicks, KFC, Absa en IT Brilliance.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’