OUDTSHOORN NUUS - Agri Klein Karoo het op Dinsdag 5 November hul algemene jaarvergadering by Kansakrale gehou.
Laubscher Coetzee, voorsitter van Agri Klein Karoo se kernboodskap was dat dit goed gaan met landbou in die Karoo.
"Ons beleef weer 'n wonderlike landboujaar met goeie opvolgreën en riviere wat sterk loop. Ons twee landboudamme loop oor wat vir ons 'n goeie produksie-horison in die vooruitsig stel."
Volgens Coetzee bly Agri Klein Karoo afhanklik van 'n gesonde ledetal.
“Ons sal ernstig moet kyk op watter wyse ons sekondêre landboubedrywe kan betrek om georganiseerde landboustrukture ook finansieel te ondersteun."
Tydens die Agri SA kongres in Oktober is daar verwys na landbou se bydrae tot BBP wat op 14% gereken word, met primêre landbou se syfer op 3% en sekondêre landboubedrywe op 11%.
"Sekondêre landbou se bydrae is bykans viervoudig groter, daarom glo ek dat hierdie sektor ook 'n plig het om primêre landbou te ondersteun. Primêre landbou is voortdurend die teiken en politiek speelbal van aanslae soos prospekteerregte, mynbou, waterregte, waterkwaliteit, skaliegasontwikkeling, sektorale koolstofvrystellingsteikings, die uitbreiding van beskermde area en die beheer van dieresiektes. Dit het alles 'n direkte invloed op primêre landbou en is dit dan nie reg en billik dat ons as primêre landbou dit alleen moet beveg?"
Henry Josephs van Landbank het teenwoordiges meer vertel van die Agro Engergy Fund en hoe boere daarby kan baat. Kobus Rautenbach van PowerHour in George het die vergadering toegelig oor die onderskeie opsies wat boere het rakende sonkrag.
Volgens Coetzee wil almal in landbou 'n afspraak met John Steenhuisen, minister van landbou bekom om hul probleme en behoeftes aan te spreek.
"Dit beteken nie dat die vereniging niks moet doen nie.
"Inteendeel, ons moet uiters goed voorbereid met die nodige kundiges, motivering en agtergrond na die tafel kom."
Wat egter volgens hom uitstaan is dat daar 'n geweldige verwagting is dat Steenhuisen moet presteer om alles waarvan die landbousektor nie hou nie uit die weg te ruim of reg te maak.
"Ek glo dat hy wil presteer, maar dat hy ook onder geweldige politieke druk verkeer."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’