OUDTSHOORN NUUS - Klein Karoo Klassique skop môre, Vrydag 8 Augustus, af en bied vanjaar weer 'n ryk verskeidenheid van klassieke musiek, kuns, boeke, kos en wyn wat enige wintermoedeloosheid sal verdryf.
Die burgersentrum word vir 'n feestelike naweek omskep in 'n kunsparadys, met wêreldklas klassieke musiek deur vooraanstaande musici, sowel as gratis musiek- en boekgesprekke, vermaak vir die kleinspan, wynproe, smulkos en die bekende en geliefde Klein Karoo-ervarings wat 'n stukkie van die Klein-Karoo met besoekers deel.
Kry ná uitgesoekte uitvoerings 'n gratis kykie agter die musiek wanneer gasheer, Steinway-kunstenaar Charl du Plessis, in gesprek tree met kunstenaars wat pas op die verhoog te sien was. Sluit bo in die banketsaal aan vir gratis, intieme musiekgesprekke met van Suid-Afrika se voorste klassieke musici, 'n unieke geleentheid om meer te ontdek oor die kunstenaars, hul musiek en die komponiste wat hulle inspireer. Feesgangers kan Charl du Plessis ook in drie uitvoerings beleef.
Kos en wyn
Smul saam in die Klassique-feesrestaurant, waar heerlike geregte en wyne daagliks honger feesgangers bederf. Begin jou dag tussen 08:00 en 11:00 met 'n smaaklike ontbyt, daar is iets vir elke eetlus, groot of klein. Daarna wag daar 'n keur van soet en sout lekkernye, insluitend heerlike nageregte vir soettande. Middagetes word tot 17:00 bedien, waarna die aandspyskaart oorneem: geniet die gewilde skep-en-weeg-opsie vol Klein Karoo-gunstelinge vir 'n watertand ete. Kuier saam in die warm atmosfeer, met geurige koffie, uitstekende wyne en meer om die winter te verdryf.
Boeke en kuns
Sluit daagliks aan vir boekgesprekke in die banketsaal, waar skrywers insig gee in hul nuutste werke, skryfprosesse en die stories agter die stories. Elke sessie bied 'n unieke geleentheid om op 'n intieme en ontspanne wyse met die wêreld van literatuur in gesprek te tree. Toegang is gratis. Moontlik gemaak deur NB Uitgewers.
Boekgesprekke
- 8 Augustus: 16:00
- 9 Augustus: 10:45
- 10 Augustus: 11:00.
Banketsaal, Afrikaans en Engels vir die hele gesin, 45 min.
Die Sacred Pulse-kunsuitstalling stel teen die uitlokkende agtergrond van die Klein Karoo-landskap 'n dinamiese, lewende verbintenis tussen kulturele uitdrukking en natuurlike skoonheid voor. Werke van beide gevestigde en opkomende kunstenaars uit die Klein-Karoo en die breër Suid-Kaap word uitgestal.
Sluit by kurator René Scribante aan vir 'n visuele kunsrondleiding in die banketsaal op Vrydag 8 Augustus om 17:00.
Banketsaal: Uitstalling daagliks 08:00 tot 20:00
Kaartjies en meer inligting beskikbaar by www.klassique.co.za, of by die KKNK-kantoor in Oudtshoorn: 044 203 8600.
Vorige berigte:
- Klein Karoo Klassique Galakonsert beloof musikale bekoring
- Gratis vermaak vir oud en jonk by Klassique
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’