OUDTSHOORN NUUS - Klein Karoo Klassique bied vanjaar nie net wêreldklas klassieke musiek aan feesgangers nie, maar ook hope gratis vermaak vir jonk en oud.
Dié fees word van Vrydag 8 tot Sondag 10 Augustus vir die 16de keer op Oudtshoorn aangebied.
Van 'n konsertreeks vir jong kinders, insiggewende musiekgesprekke vir kenners en ontbytkonserte om die dag in die regte luim te begin, tot literêre gesprekke met skrywers, 'n visuele kunsuitstalling, ’n kunsrondleiding en geleenthede om saam ’n verskil in die gemeenskap te maak – daar is iets vir elkeen om te geniet as deel van dié gratis aanbod.
Die Little Maestros-konsertreeks is terug en dié keer staan die harp sentraal. Jana van der Walt (harp) en Magdalene Minnaar (viool en aanbieder) is Vrydag 8 en Saterdag 9 Augustus 12:30 op die verhoog in die Banketsaal vir ‘'n spesiaal ontwerpte konserte vir die jongste luisteraars, in 'n ontspanne omgewing waar hulle die musiek van Mozart, Bach en ander geliefde komponiste kan verken.
Hierdie interaktiewe uitvoerings is saamgestel met kinders in gedagte en sluit interaksie en verduidelikings, asook deelname en beweging saam met die musiek in.
Klassieke musiek is ’n sterk ontwikkelingshulpmiddel vir jong kinders, aangesien dit breinontwikkeling ondersteun en konsentrasie bevorder. Die konserte word in ’n piekniek-styl aangebied en die hele familie is welkom.
Ontbytkonserte
Elke dag begin met ’n Ontbytkonsert. Hierdie gratis konserte word soggens vanaf 08:00 aangebied.
Op dié program is Oudtshoorn-pianis Marlene Vlok (Vrydag 8 Augustus 08:00), pianis Megan-Geoffrey Prins (Saterdag 9 Augustus 08:00) en die Charl du Plessis Trio (Sondag 10 Augustus 08:00). Toegang tot die musiek is gratis.
Boekgesprekke
Drie boekgesprekke, moontlik gemaak deur NB Uitgewers, word in die Banketsaal aangebied. PJO Jonker gesels Vrydag 8 Augustus 16:00 met Marliza van den Berg oor sy boek, Die Onsigbare.
Saterdag 9 Augustus 10:45 tree Juliette Mnqeta in gesprek met Elna van der Merwe oor haar boek, If The Dead Could Talk. Vir die laaste boekgesprek (10 Augustus 11:00), gesels die Hertzog-pryswenner Willem Anker met Van der Merwe oor sy novelle, Patmos, gegrond op Anker se gelyknamige toneelstuk, wat in 2024 by die KKNK gedebuteer het.
Visuele kunsuitstalling
René Scribante is die kurator van die fees se visuele kunsuitstalling in die Banketsaal, onder die tema Sacred Pulse.
Scribante bied Vrydag 8 Augustus 17:00 ’n visuele kunsrondleiding van die werke in die Banketsaal aan.
ReWOLusie
Die Oudtshoorn ReWOLusie, 'n gemeenskapsprojek wat 'n groot impak in die omgewing maak, werskaf daagliks in die Banketsaal. Feesgangers word uitgenooi om saam met dié span te brei en te hekel.
Elke blokkie wat tydens die fees hier gebrei of gehekel word, vorm deel van ’n groter projek om komberse vir minderbevoorregte gemeenskappe te maak en te skenk.
Steun hierdie plaaslike inisiatief deur ’n donasie te maak in ruil vir ’n kombers of koffietafelboek oor die Oudtshoorn ReWOLusie, of skenk ’n bol wol en help ons om die draad van omgee voort te spin.
Klassique datums om te onthou
- Daagliks: Ontbytkonsert vanaf 08:00
- Vrydag 8 Augustus: Marlene Vlok
- Saterdag 9 Augustus: Megan-Geoffrey Prins
- Sondag 10 Augustus: Charl du Plessis Trio
- Vrydag 8 en Saterdag 9 Augustus 12:30 - Little Maestros
- Vrydag 8 Augustus 10:45: Die Onsigbare
- Saterdag 9 Augustus 10:45: If the dead could talk
- 10 Augustus, 11:00: Patmos
Vir meer inligting, besoek klassique.co.za of kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’