VERMAAK NUUS - Die immergewilde Charl du Plessis Trio en opkomende operaster Nonhlanhla Yende sluit by hulle aan vir die Klein Karoo Klassique Galakonsert, moontlik gemaak deur Le Lude, op Saterdag 9 Augustus om 19:30.
Hierdie konsert was ’n besonderse optrede op die program verlede jaar, wat ’n ongelooflike feesdebuut vir die Kaapstadse Feesorkes, onder leiding van Cock, ingesluit het. Volgens hom, kan die gehoor “vanjaar nóg ’n uithalerkonsert verwag”.
“Ons het ’n program saamgestel met Charl en sy Trio saam met ’n orkes, wat sy besonderse verwerkings van klassieke musiek insluit, asook bietjie boogie, vermeng met Bach, Vivaldi, Mozart en Beethoven – en ’n wonderlik operasangeres wat haar feesdebuut maak, Nonhlanhla Yende, en musiek sing van Mozart, Saint-Saëns en Bizet,” sê Cock.
Die program vir die Galakonsert sluit Beethoven se Maanligsonate, in ’n splinternuwe verwerking vir orkes, opera-arias van Mozart, en musiek van Vivaldi, Bach en Beethoven in.
Du Plessis se kenmerkende verwerkings van geliefde klassieke werke, onder Cock se leiding, beloof ’n aand van uitstaande musikale genot.
Cock sê hy en Du Plessis het ’n sterk samewerkingsverhouding en, omdat beide van hulle verlede jaar op die verhoog by Klassique was en in gesprek met feesgangers getree het, hulle sodoende ’n goeie begrip het vir wat die gehoor waardeer.
“Dit is altyd lekker wanneer ’n gehoor positief op ’n konsert reageer. Ons voel hulle energie aan op die verhoog en weet gou wanneer ons in die kol is met die musiek – reeds vanaf die eerste note wat gespeel word en ons die gehoor aangegryp. Hulle is daar om die optrede te geniet en ons neem hulle saam met ons op ’n ongelooflike reis. Die Kaapstadse Feesorkes verseker ’n ryk agtergrond en die orkes voeg kleur tot die aand by.”
Mezzo-sopraan Yende sê sy is opgewonde om vir die eerste keer by Klassique op te tree, aangesien dit aan haar ’n geleentheid bied om ’n nuwe gehoor te bereik.
“Dis altyd opwindend, want dit beteken dat ek nuwe, betekenisvolle verbintenisse kan vorm. Ek wou nog altyd saam met maestro Richard Cock werk – ek het al gesien hoe hy wonderlike platforms skep vir beide opkomende en gevestigde kunstenaars, daarom wou ek nog altyd onder sy leiding optree.”
Haar repertorium vir die Galakonsert is sorgvuldig gekies om kontras en karakter te bied – met drie sterk vroue, perfek geskik vir ’n konsert op Vrouedag.
“Dorabella’s Aria van Così fan tutte deur Mozart is een van my gunstelinge. Dit het ’n byt, adrenalien, is aangrypend en het die vurigheid van jong liefde, maar ook woede en vrees – alles in een. Dit was een van die eerste rolle wat ek opgevoer het, so dit is vir my ’n nostalgiese herinnering.
“Habanera uit Carmen deur Bizet is vryerig en uitdrukkingsvol. Carmen is ’n vrou wat weet wat sy wil hê en nie bang is om dit na te streef nie.
“Mon coeur s’ouvre à ta voix van Samson et Dalila deur Saint-Saëns is ook een van my gunstelinge. Ek is gaande oor die wyse waarop dit gekomponeer is en die emosies wat dit ontlok. Om in Frans te sing laat my toe om my artistieke vermoëns en grense as ’n mezzo-sopraan te verbreed en om lang, pragtige frases te sing.”
Maestro Richard Cock en opkomende operaster Nonhlanhla Yende deel vanjaar die verhoog met die Kaapstadse Feesorkes en die Charl du Plessis vir die Klein Karoo Klassique Galakonsert. © Hans van der Veen
Beide Cock en Yende geniet dit om in ’n intieme omgewing, soos Klein Karoo Klassique, op te tree.
“Dit is wonderlik om naby genoeg aan die gehoor te wees om hulle reaksies as maatstaf te gebruik. Dit kan baie persoonlik en intiem wees,” sê Cock.
Yende stem saam: “Daar is iets besonders daaraan om in ’n intieme ruimte op te tree – jy kan werklik met elke persoon in die vertrek ’n verbintenis voel. Jy voel nie net die energie nie, maar ook die uitruiling tussen kunstenaar en gehoor.”
Alhoewel dit vervullend is om internasionaal op te tree, sê Yende dat dit vir haar ’n diep betekenis het om tuis in Suid-Afrika op te tree.
“Om op eie bodem op te tree is vir my baie spesiaal. Dit voel altyd vir my asof my beker weer volgemaak word. Dit hou my nederig, bied nuwe krag en bemagtig my weer. Ek is mal daaroor om in Suid-Afrika op te tree, veral vir my eie gemeenskap – dit lê my na aan die hart.”
Cock sluit af met ’n herbevestiging van sy musikale visie. “My doel in Suid-Afrika is om musiek toeganklik te maak. Beide Charl en ek is gaande daaroor om mense op ’n musikale reis te neem – een wat prettig, stylvol en vol nuwe musikale ontdekking is.”
Kaartjies vir Klein Karoo Klassique is aanlyn beskikbaar, of by die KKNK se kantoor. Beskikbare kaartjies is ook te koop by die deur voor elke vertoning.
Klein Karoo Klassique word aangebied deur die KKNK, moontlik gemaak deur die Rupert-Musiekstigting en die ATKV, met ondersteuning van Le Lude en die Oudtshoorn Munisipaliteit.
Dié winterfees se verblyfborge is Argyll B&B, Beit Shalom Guesthouse, Cul De Sac Country House, De Zeekoe Guest Farm, Hlangana Lodge, Kleinplaas Holiday Resort, Mooiplaas Country Guest House, Queen’s Hotel, Protea Hotel Riempie Estate, Ravenscliff Manor, and Rosenhof Country House..
Vir meer inligting, besoek klassique.co.za of kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’