TUINROETE | KAROO NUUS - Tydens die afgelope etensuurkonsert in die NG Moedergemeente op Woensdag 13 April, het die Musica Amici-kamerkoor onder leiding van Dalene Brits 'n uitvoering gelewer van gewyde musiek van die gevierde komponis Chris Lamprecht (1927-).
Van die werke is so onlangs soos 2021 gekomponeer. Die konsert het begin met 'n klavier-orrelduo op die lied In U is vreugde verwerk deur die koorleier.
Die musiek in die res van die program het bestaan uit toonsettings van Bybeltekste en verwerkings van gesange deur Chris Lamprecht.
Die eerste werk was By die see van Tiberias - 'n meditasie waar Jesus drie maal aan Simon vra, Het jy my waarlik lief? Die melodie is geskryf deur Lamprecht se oudste seun, Charl, en deur Chris verwerk vir koor met klavierbegeleiding.
Die gebruik van die pianissimo-register in die koorwerk Wees stil my siel, het 'n intieme atmosfeer geskep vir die koorsiklus van liedminiature, Die Saligsprekinge, wat sou volg.
Dit is opgevolg met Die vrugte van die Gees - 'n teks wat omarm is met die woorde uit Psalm 16 Uit U hand kom net wat mooi is (seker die motto van Chris Lamprecht se musiek).
Hierdie werk het ontstaan toe hy en sy suster, die komponis Marthie Driessen, besluit het om elkeen die teks van Vrugte van die Gees te toonset.
Die tweede deel van die program het bestaan uit Golgota - 'n aangrypende siklus van liedere oor die paasgebeure. Een van die hoogtepunte uit die siklus is Groter liefde het niemand as dit nie, dat Hy sy lewe aan sy vriende gee - 'n stuk vir vierstemmige dameskoor.
Die konsert is afgesluit met Rabboeni, my Meester! - ook 'n onlangs gekomponeerde werk wat eindig met 'n jubelende In U is vreugde!
Lamprecht woon die afgelope paar jaar in Heroldsbaai, waar hy uitkyk op die baai van Dollieskraal. Sy kinders en kleinkind uit Amerika was ook teenwoordig by hierdie besondere geleentheid.
Ons dank aan Chris Lamprecht vir sy besondere bydrae tot Afrikaanse musiek wat volksbesit geword het. Dankie ook aan Dalene Brits wat saam met haar Musiekvriendekoor hierdie projek met vreugde kon aanpak en deurvoer.