RUGBYNUUS - Twee Bulle van Hoër Landbouskool Oakdale het gistermiddag (Woensdag 9 Julie) met 'n puik vertoning op die derde dag van die o.18 Cravenweek-rugbytoernooi 'n groot rol gespeel in die Suidwestelike Distrikte se wegholoorwinning van 54 - 22 teen die Leeus.
Beide Jacobus de Villiers (agsteman) sowel as Christian Vorster (binnesenter) het albei twee keer agter die doellyn gaan draai en die SWD gehelp om vir die hoofwedstryd Saterdag te kwalifiseer.
Vorster het Maandag in die openingswedstryd teen die Vrystaat bo die ander spelers uitgetroon en op die aanval en verdediging geskitter.
Daar is sommer heelwat rugbybloed in die De Villiers-broers se are met Jacobus se ouer broer, Paul, wat die Junior Bokke aangevoer het.
Die SWD se agttal het die Leeus voorlangs, veral in die vaste fasette oorheers, terwyl hul agterlyn met puik aanvallende spel die Leeus se verdediging deeglik getoets het.
Vir Hoërskool Outeniqua se Keenan Myners (haker) sou die oorwinning bitter soet gewees het, want net verlede jaar het hy nog vir die Leeus gespeel. Hy het ook die SWD se eerste drie gedruk.
Vir die SWD het Keenan Myners, Lee-Winn Pretorius, Christian Vorster (2), Jacobus de Villiers (2), Matthew Prins en Tyrese Plaatjies almal drieë gedruk terwyl Jandrian Goosen (3) en Virgil Pockpas (4) met hul doelskoppe suksesvol was.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’