Update
OUDTSHOORN RUGBYNUUS - In die nadraai van Saterdag se voorval toe 'n Spring Roses-rugbyspeler, Chad Pass, probeer het om 'n All Black-speler met gebreekte bottelnekke aan te val, het Spring Roses besluit om Pass se lidmaatskap op te skort.
Hy is effektief vir 10 jaar geskors en mag in geen hoedanigheid in enige van die klub se strukture of spanne speel nie.
Volgens Royden Boonzaaier, kassier en woordvoerder van Spring Roses, het Pass gister tydens die klub se interne tugverhoor aangedui dat hy teen dié sanksies gaan appelleer.
"Spring Roses betreur hierdie geweldsvoorval en hoop dat Pass se skorsing 'n duidelike boodskap aan die publiek stuur dat die klub sy gedrag totaal onaanvaarbaar vind," het Boonzaaier gesê.
Intussen het die SWD-rugbyunie ook sy tugverhoor teen Pass en Spring Roses by Outeniquapark (George) afgehandel.
Tydens die verhoor, het Spring Roses-rugbylub skuldig gepleit op die klagte teen hulle en is gevolglik 'n boetestraf van R5 000 opgelê waarvan R3 000 opgeskort is. Die oorblywende R2 000 is betaalbaar voor die afskop van die SWD-superliga wedstryde wat op 6 Maart begin.
Die klub is ook gemaan om 'n veiligheid - en sekuriteitsplan aan die SWD-rugbyunie voor te lê.
Chad Pass is vir sy aandeel vir 5 jaar uit alle rugby aangebied deur die SWD-rugbyunie geskors, waarvan 2 jaar opgeskort is.
Verwante artikel: Rugbyspeler saai amok
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'