OUDTSHOORN RUGBYNUUS - 'n Woedende speler van Spring Roses-rugbyklub het Saterdag probeer om 'n All Blacks-speler op die veld met twee gebreekte bottelnekke te steek.
Die voorval het na halftyd tydens 'n vriendskaplike wedstryd tussen dié twee spanne plaasgevind en die wedstryd moes gestaak word.
Chad Passs, wat in dié wedstryd skrumskakel gespeel het, is na die eerste helfte deur Spring Roses vervang waarna hy toe op 'n All Blacks-speler, Mario Rabie (flank) geskel het oor dié hom glo met sy knie in die losgemaal bygekom het.
'n Rukkie na hierdie insident het All Blacks in die tweede helfte 'n drie gedruk en toe vir Spring Roses gewag om die bal weer in te skop.
Dit is toe dat 'n woedende Pass kaalbolyf met twee gebreekte bottelnekke in sy hande op die veld storm en verwoed na Rabie begin steek. Chaos het onder die toeskouers en spelers uitgebreek en die skeidsregter moes noodgedwonge die wedstryd stop. Bestuurslede van Spring Roses het Pass tevergeefs probeer kalmeer, maar hy het hom telkemale uit hulle grepe losgewikkel.
Na 'n lang gesukkel kon hulle hom uiteindelik onder dwang bring, maar het hy steeds vir Rabie en die All Blacks-slot, Everton Manewil, gedreig dat hy vriende sou gaan roep om hulle met 'n mes te kom steek.
Bestuurslede van Spring Roses-rugbyklub probeer Pass met die gebreekte bottelkoppe steeds in sy hande, vaskeer. Foto's: Wyndham Ewerts
Terwyl Manewil met sy vrou en kinders die perseel in hul motor wou verlaat, het Pass, wat intussen met sy vriende teruggekeer het, vir Manewil probeer aanval. Manewil het toe weggehardloop om konfrontasie te vermy en sy vrou en kinders geleentheid te gee om weg te ry.
Gedurende dié voorval is die voorsitter van All Blacks, Damon Gysman ook deur Pass met 'n mes gedreig. Gysman, Rabie en Manewil het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat hulle verneder voel omdat hulle voor hul vrouens en kinders met 'n mes gedreig en aangeval is.
"In belang van All Blacks-rugbyklub se openbare beeld glo ek egter dat ons korrek in belang van sportmangees opgetree het deur liewer konfrontasie te vermy.
"As ons geweld met geweld vergeld het, kon dinge lelik hand uitgeruk het en kon spelers vandag erg beseer of selfs dood gewees het. As voorsitter het ek 'n verslag oor dié voorval geskryf en soos protokol vereis aan die SWD-rugbyunie gestuur," het Gysman verduidelik.
By navrae het Royden Boonzaaier, kassier en woordvoerder Van Spring Roses-rugbyklub, die insident veroordeel en gesê dat die klub reeds 'n geskrewe verskoning aan die All Blacks-bestuur gerig het. "Ons keur hierdie barbaarse gedrag van een van ons spelers ten sterkste af en die publiek kan verseker wees dat daar teen hom binne ons klubstrukture opgetree sal word. As klub vra ons ook onvoorwaardelik verskoning aan die publiek."
Die SWD-rugbyunie het intussen bevestig dat dié voorval aangemeld is en dat Pass gemaan is om gister (Donderdag) voor ‘n tugkomitee van dié unie by Outeniquapark (George) te verskyn.
Volgens kapt. Louis Visser, kommunikasiebeampte van die Oudtshoorn-polisie, word daar twee klagtes van aanranding ondersoek, maar niemand is op hierdie stadium aangekla nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'