OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-rugbyklub het die afgelope naweek sy sewende sege van die seisoen behaal toe hy Haarlem Swings in 'n SWD Eerste Liga B Oos-wegwedstryd met 31 - 22 geklop het.
Swings was 'n harde neut om te kraak voor sy tuisskare en het teen rustyd met 22 - 17 voorgeloop. Die volstruise het egter in die tweede helfte na 'n hoër rat oorgeskakel en Swings nie toegelaat om enige verdere punte aan te teken nie.
Oudtshoorn se drieë is deur Anru Tolken en Jean Rossouw gedruk terwyl Merthen Goliath twee keer agter die pale gaan kuier het. Delaud Baartman was suksesvol met vier doelskoppe en een strafskop.
Oudtshoorn se B-span was ook aan die wenkant met 20 - 19. Hier was dit Marthinus Hendricks wat met die laaste beweging van die wedstryd 'n drie vir die besoekers gedruk het om die wedstryd te beklink.
Marthinus Hendricks op die aanval.
Hendricks het ook een drie verdoel plus 'n strafskop. Christopher Jaars het die ander twee drieë gedruk. Oudtshoorn se volgende wedstryd is 14 Junie teen Willowmore by die Oudtshoorn-sportterrein.
Collegians teen Thistles
Collegians het in sy SWD Super B-ligawedstryd vir Thistles op Friemersheim met 33 - 14 ore aangesit. Die rustydtelling was 12 - 7 in Collegians se guns.
Thistles het die wedstryd teen 'n vinnige pas begin en die eerste punte van die wedstryd op die telbord geplaas met 'n verdoelde drie. Dit het Collegians uit hul sluimer ontwaak en het hulle twee drieë gedruk waarvan een verdoel is om die eerste helfte af te sluit.
Na rustyd het Collegians die krane behoorlik oopgedraai en die een drie na die ander ingeryg. Die tuisspan kon eers laat in die wedstryd daarin slaag om 'n verdoelde troosdrie te druk, maar toe was die koeël reeds deur die kerk.
Vir Collegians het Castino Lewis, Willem Goliath, Mercavin le Roux, Jandré Murphy en Ismael Booysen elk een drie gedruk. Le Roux het ook vier doelskoppe oorgeklits. Collegians se B-span het met 41 - 12 verloor.
Collegians se volgende wedstryd is Saterdag 15 Junie op die Bridgton-sportterrein teen Albertinia Rangers.
Super A-ligawedstryde
Beide spanne van Oudtshoorn, Bridgton en Harlequins, wat in die Super A-liga speel, het die afgelope naweek vasgeval.
Bridgton het in Heidelberg met 16 - 23 verloor terwyl Harlequins Magte met 21 - 24 teen George verloor het.
Hierdie loesing beteken dat Harlequins nie kwalifiseer vir die top-8-fase van die toernooi nie en nou sal moet speel in uitspeelwedstryde om hul Super A-liga te behou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’