OUDTSHOORN RUGBY NEWS - Spring Roses B het Saterdag oor die laaste hekkie gestruikel en met 25-15 in die finaal teen Riversdal Blues op Outeniquapark verloor. Die rustydtelling was 14-10 in Blues se guns.
Die Rooimiere, soos die span bekend staan, het een van hulle minder goeie vertonings van die seisoen gehad. Die span wat gewoonlik vlugvoetig is, en voor die eindstryd die drieë ingeryg het, kon Saterdag net twee keer die doellyn oorsteek. Die span het ook nie baie goed verdedig nie en Blues toegelaat om telkens hulle verdedigingslyne te klop.
Ondanks die feit dat niks vir die Rooimiere wou reg loop nie was daar by tye goeie rugby wat deur swak hanteerwerk ongedaan gemaak is. Die span het ook talle verkeerde opsies met die bal in hand gemaak en kan hulleself skop dat hulle nie vandag die presidentsliga-kampioene is nie.
Vir die Rooimiere het hul voorspelers moedig probeer om die groot agttal van Blues in toom te hou. Renaldo Stuurman, Steven Simmers, Pieter Jansen en Johnnie Van Niekerk het hard probeer om die oormag te stuit.
Agterlangs het Attie Goliath, Henslow Janse en Suttner Abrahams hard probeer om Blues se verdedigingslyne te breek om Roses op die voorvoet te sit. Van die aangeë het egter op die grond beland en Blues 'n kans gegee om teenaanvalle te loods.
Damon Smit, ondervoorsitter van Spring Roses sê hy is teleurgesteld in die uitslag maar dat sy spelers hulle beste gegee het. "Ons het Outeniquapark toe gekom om die kampioene te word. Ons het egter aan die kortste end getrek met sekere beslissings teen ons. Ons het egter 'n fantastiese seisoen gehad. Altwee ons spanne was die beste in die Presidentsliga. Ons is trots op wat ons spelers die seisoen gedoen het. Ons het ook 'n baie goeie tipe hardlooprugby gespeel en nie een span kon my ons kers vashou nie. Altwee ons spanne het eerlikwaar Spring Roses se naam vanjaar hoog gehou en vir dit verdien hulle almal 'n kloppie op die skouer."
Spring Roses spog met hul beker en wen-tjek.
"Saterdag is verby en nou kyk ons net vorentoe. Ons is trots dat ons B-span die beste is in SWD Rugby se Presidentsliga."
Vir Roses het Enno Veldman en Attie Goliath drieë gedruk. Ben Fortuin het die ander punte bygedra met 'n doel en 'n strafskop.
Piet Veldman, heelagter van Spring Roses, probeer 'n speler van Blues uit die pad uit loop.
John Smith soek ondersteuning.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'