ALBERTINIA NUUS - Die manne in rooi, wit en blou van Albertinia Rangers het Eagle Stars van Sedgefield Saterdag met 28 - 17 geklop.
Rangers het van die afskop af probeer om hul stempel op die wedstryd af te druk, maar die besoekers was slaggereed vir die tuisspan.
Albei spanne het die skare met pragdrieë op hul voete gehad. Rangers het in die tweede helfte met puik agterlynbewegings in die tweede helfte vier drieë gedruk vir 'n bonuspunt. Die arme Eagle Stars kon later eenvoudig nie meer al die gate toestop nie.
Vir Rangers het hul losskakel, Edwin-Junior Pietesen, Conroy Matiso, Rejovaan Fortuin en die jongeling Emile Damons uitgeblink en elk een drie gedruk.
Pietersen was suksesvol met al die doelskoppe.
Rangers se B-span het hul wedstryd gemaklik met 49 - 13 gewen en altesame sewe drieë gedruk.
Joshwill Saayman het 'n driekuns aan drieë behaal en ook sewe doelskoppe deur die pale gejaag.
Enrico Damon (2), Angelo Uithaler, Alwyn Swanepoel en Christo Jantjies het ander drieë gedruk.
Rangers speel Saterdag weg teen Spring Roses in Oudtshoorn.
Rejovaan Fortuin, puik losvoorspeler van Albertinia Rangers, val aan met die bal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’