OUDTSHOORN NUUS - Bestuurslede van Dysselsdorp Rangers-rugbyklub het verlede Vrydag, 27 Maart, 'n stewige skenking vanaf Klein Karoo Agri ontvang. Die klub se voorsitter, Craig Kok, en tesourier, Brian Koopman, het Vrydagoggend 'n tjek van R15 000 van Klein Karoo Agri ontvang.
Die tjek is deur KKA se bemarkingsbestuurder, Gerickus Vermeulen, aan hulle oorhandig.
Vermeulen het gesê dat dié klub hulle vir 'n moontlike borgskap genader het.
"Klein Karoo Agri ondersteun graag skole en sportorgansisasies waar ons kan. Dit is deel van ons betrokkenheid by die gemeenskap. Ons glo dat sport een van die boustene van 'n gesonde gemeenskap is, en daarom ondersteun ons graag," het hy gesê.
Dysselsdorp Rangers RFC is die enigste rugbyklub in Dysselsdorp en bestaan reeds 48 jaar. Rangers het twee speelspanne en neem deel aan die SWD 1ste Liga-Oos kompetisie.
Volgens Kok het die klub verskeie maatskappye genader vir borgskappe. Klein Karoo Agri het verlede jaar die klub se truie geborg.
Die ander skenker wat vanjaar 'n bydrae gelewer het is die Hollywood Foundation wat 'n verskeidenheid van toerusting en sportklere sowel as noodhulptoersuting geskenk het.
Kok het Rangers RFC se opregte dank en waardering aan Klein Karoo Agri en Hollywood Foundation betuig.
"Ons wil ons opregte waardering uitspreek teenoor Klein Karoo Agri en Hollywood Foundation vir hul ruim borgskappe en volgehoue ondersteuning. Julle betrokkenheid maak 'n groot verskil en dra by tot die groei en sukses van ons klub. Sulke vennootskappe bou nie net spanne nie, maar versterk hele gemeenskappe," het hy Maandag gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’