OUDTSHOORN NUUS - Die A-span van die Oudtshoorn-rugbyklub het Saterdag, na sy loesing die vorige week teen Spring Roses, weer op die wenpad gekom en vir Rangers van Dysselsdorp in 'n harde wedstryd op die Bridgton-sportterrein met 22 - 16 geklop. Die wenspan het rustyd met 15 - 9 voorgeloop.
Vir Oudtshoorn het Ruhan Els (senter), Jaco Marx (flank) en Ruhan Tolken (slot) elk 'n drie gaan druk. Jean Heunis (senter) het die res van die punte met twee doelskoppe en 'n strafdoel aangeteken.
Oudtshoorn B het Rangers B oortuigend met 36 - 3 verslaan.
Oudtshoorn-rugbyklub se puntemakers was Hendrik Kotze (heelagter) wat een drie gedruk het, en twee drieë verdoel het, Franklin Wicomb (senter) het eenkeer agter die pale gaan kuier en Luwellin Izaks (skrumskakel), Peter Maloney (slot) en Christopher Jaers (plaasvervanger) het ook elk een drie gedruk. Izaks kon ook een doelskop deur die pale jaag.
Vir Rangers het Thobela Galant een drie gedruk en Ben Gertse het dit verdoel. Peswill Oktober het drie strafdoele deur die pale gejaag.
Oudtshoorn se volgende wedstryd is 'n wegwedstryd op 13 Julie teen Willowmore en Rangers speel tuis in Dysselsdorp teen Adias.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’