OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-rugbyklub se A-span het ondanks 'n nederlaag teen George-rugbyklub die afgelope naweek daarin geslaag om sy plek bo-aan die SWD Uitdaagbeker-punteleer met 29 punte te behou.
George-rugbyklub het Oudtshoorn vir die laaste uitspeelwedstryde gehuisves, met albei klubs se drie spanne in aksie.
George lê tans tweede op die punteleer met 28 punte.
Oudtshoorn se derde span het 'n naelbyt-stryd met 33 - 28 gewen nadat hulle tot die einde vasgebyt het om die wedstryd in die laaste oomblikke te beklink.
Die tweede span het met 12 - 28 verloor, terwyl die eerste span in 'n hoëtempo-wedstryd met 36 - 46 aan die kortste end getrek het. Die eerste span se bonuspunt vir die wedstryd het egter verseker dat Oudtshoorn steeds bo-aan die punteleer bly.
Volgens Harry Coetzee, Oudtshoorn-rugbyklub se hoofafrigter, is die span nou gefokus op die halfeindronde wat dié naweek plaasvind.
Oudtshoorn het vroeër sy plek in die Premierliga verseker nadat hulle Riversdal Blues geklop het.
"Dankie ook aan die ondersteuners, beamptes, vrywilligers en borge wat deur die seisoen hul ondersteuning gegee het," sê Coetzee.
Met die halfeindronde wat nou voorlê, sien Oudtshoorn uit na die uitdaging en bly die fokus op harde werk, dissipline en spanwerk.
"Oudtshoorn staan saam, speel met trots en is gereed vir die volgende uitdaging." Hy het ook George-rugbyklub bedank vir hul gasvryheid en die professionele aanbieding van die wedstryddag.
Oudtshoorn pak Harlequins in die een halfeindstryd, terwyl George en Eagle Stars in die ander kragmeting sake uitspook. Die twee wenners sal vervolgens in die eindstryd teen mekaar te staan kom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’