OUDTSHOORN NUUS - Geld staan tussen die 18-jarige Marshall Prins en 'n gulde geleentheid om van 26 September tot 5 Oktober aan 'n rugbytoernooi in Frankryk deel te neem.
Marshall, wat vaskopflank speel, is een van die topspelers wat tydens die Tony Stoops Rugbyfees in Kaapstad gekies is vir die elite Rhinospan.
Hy woon in Jabulanistraat in Bongolethu en is 'n gr. 12-leerder by Hoërskool Bridgton.
Wat die prestasie so merkwaardig maak is dat Marshall die enigste rugbyspeler in die SWD is wat vir dié elite-span gekies is.
Hy en sy gesin sit egter met die kopseer om R40 000 in te samel om die toer mee te maak. Sy familie het tot dusver R15 000 ingesamel, maar die hele bedrag moet teen die einde van Augustus inbetaal word.
Marshall sê hy hoop maar vir die beste en is seker dat daar barmhartige samaritane is wat hom sal help.
"Dit voel soos 'n droom. Voor die toernooi was ek net 'n outjie wat wou rugby speel. Na die eerste wedstryd het ek 'n nuwe wêreld begin sien. Van die keurders het my genader en gesê hulle oorweeg my vir 'n elite span. Ek was heeltemal verbaas want ek het nie gedink ek het baie goed gespeel nie.
Ek het net my basiese werk gedoen en op my beste probeer verdedig. In die ander twee wedstryde het ek darem my staal getoon en ook drieë gaan druk."
Marshall sê hy het na die tyd gehoor hy het die uitsoekspan gehaal.
"Ek is ook dokumente in my hand gestop dat ek aansoek moet doen om volgende jaar in die WP se rugby-akademiespan opgeneem kan word. Dit was 'n ongelooflike gevoel."
Marshall sê sy droom het nou vlerke gekry om eendag die groen en goud oor sy kop te trek.
"Ek droom om eendag vir die Blitsbokke te speel as dit vir my beskore is. Die groen en goud is nog altyd my passie en ek is in hart en siel trots om 'n Suid-Afrikaner te wees. Alles sal egter uit werk as ek genoeg geld kry om die toer na Frankryk mee te maak. Ek weet mense sal my help."
Mense wat Marshall wil help kan sy niggie Samantha Stuurman by 074 221 5150 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'