OUDTSHOORN NUUS - Harlequins-rugbyklub se A-span het die afgelope naweek Uniondale in 'n SWD Eersteliga-Oos-wedstryd by die Infanterieskool-sportterrein met 24 - 13 geklop.
Uniondale was voor die wedstryd die voorloper in dié liga met die tuisspan kort op hul hakke.
Met hierdie oorwinning het Harlequins na 10 wedstryde die voortou op die punteleer geneem met 47 punte.
Uniondale is nou in die tweede posisie met 44 punte met nog 'n plaaslike span, Adias van Volmoed, in die derde plek met 40 punte. Harlequins se B-span was ook aan die wenkant en het met 15 -14 geseëvier.
Die klub se afrigter, Jan Plaatjies het Peter Campher, Jaylin Pretorius, Rhupino Plaatjies, Alex Mtembi, Aiden Fiellies en Lleyton Avontuur uitgesonder as die spelers wat uitstekende spel gelewer het.
In 'n SWD Super A-ligawedstryd die naweek het Bridgton na Plettenbergbaai gereis en die tuisspan, Jaguars, met 29 - 3 afgeransel.
Jayden Moos (heelagter), Dean January (senter), Tinsley Stuurman (senter) en JP Duvenage (losskakel) het elk een drie gedruk. Duvenage was suksesvol met drie doelskoppe en een strafdoel. Bridgton se B-span het met 14 - 10 vasgeval.
Die C-span het nie gespeel nie omdat die skeidsregter laat was. Bridgton se volgende wedstryd is die komende naweek teen Progress van George op die Bridgton-sportterrein.
Ralph Witbooi breek deur 'n gaping. Foto's: Reagan Africa
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'