OUDTSHOORN NUUS - Hartverskeurend ja! Om te verloor in die doodsnikke van 'n halfeindstryd as jy met 31 - 27 voorloop en jy in jou hart weet dis die één wedstryd wat jy moes wen.
Maar op die Graveyard in Pacaltsdorp is verskeie spanne al vanjaar begrawe. Saterdag was dit Bridgton se titelaspirasies wat hier begrawe is toe Evergreens oor die doellyn kon stoomroller vir 'n wendrie en 'n laat strafskop om die eindtelling na 35 - 31 te laat aanrol.
'n Euforiese gemoedstoestand het onder Evergreens-ondersteuners vlamgevat en weldra na alle uithoeke van Pacaltsdorp uitgekring. Maar in die Bridgton-kamp, het 'n geskokte stilte neergedaal.
Die halfeindstryd was 'n brutale mengsel van goeie aanvallende spel, puik verdediging en werkverrigting aan albei kante, en volslae toewyding.
Die halfeindstryd het net weer die fyn lyn tussen sukses en mislukking onderstreep. Dis eintlik jammer dat daar 'n verloorder moes wees in die gelykopstryd tussen twee swaargewigte, wat eintlik na enige kant toe kon kantel.
Maar dis soos dit is en om daaroor te tob en derms uit te ryg sal net mooi niks help nie. Daar is straks 'n les of twee hieruit te leer. Soos: maak slim besluite op die regte tye en speel na jou sterkpunte toe. En wees 100% akkuraat in jou uitvoering.
Evergreens het soos 'n sneltrein weg-gespring en twee blitsige drieë gedruk om met 13 - 0 voor te loop.
Daarna het hulle die telling met puik aanvallende spel gerek na 20 - 7 en toe na 27 - 7. Die tuisspan was amper onkeerbaar en 'n oorwinning het flink gewink.
Maar gee Bridgton dit ter ere: hulle het nooit moed opgegee nie en veral in die tweede helfte was hulle deurgaans gevaarlik met veral hul giftige agterlyn wat Evergreens se doellyn verwoed aangeval het.
Vooraf is bespiegel dat Evergreens se swaar agttal sake voorlangs sou oorheers, maar Bridgton het dit nie toegelaat nie. Trouens, die besoekers het hulself redelik goed van hul taak gekwyt en sterk teruggeslaan om die telling na 27 - 24 te laat krimp. En toe hulle laat in die tweede helfte gaan druk om met 31 - 27 voor te loop, was die tuisskare stil.
Dis maklik om ná die tyd foute uit te wys en redes vir 'n nederlaag aan te voer. Bridgton het beslis nie swak gespeel nie, maar in die laaste kwartier moes hulle slimmer taktiek gebruik het en Evergreens in hul eie gebied vasgepen het, in plaas daarvan om toe te laat dat die tuisspan meedoënloos hul doellyn aanval.
Ricardo Beukes, hoofafrigter van Evergreens, het in 'n onderhoud met Oudtshoorn Courant se susterskoerant George Herald gesê hy het nooit getwyfel in sy span se vermoëns om die wedstryd te wen nie, maar ek moet erken: "Toe die eindfluitjie blaas, was ek 'n verligte afrigter."
"In die eerste 30 minute het die span by die wedstrydplan gehou en kon ons 'n groot voorsprong opbou. Maar toe daai twee geel kaarte wat ons na mekaar gekry het. Dit het ons ritme versteur en ons moes ons wedstrydplan inderhaas aanpas. Ons het Bridgton ook toegelaat om terug te slaan en ons voorsprong te laat krimp. Hulle het veral vir 'n groot deel van die tweede helfte die kitaar geslaan en hier reg teen die einde voorgeloop.
"Maar die groot verskil was ons senior spelers wie se ervaring op die ou einde deurslaggewend was. Ons het 'n paar sterk leiers in die span en hulle het die jonger manne kalm gehou.
"In die laaste tien minute het ons weer ons ritme gevind en met kragspel Bridgton se doellyn aangeval. Met die laaste skrum het Heinrich McKenzie, plaasvervanger-agtsteman, die bal opgetel, maar hy is kort voor die doellyn platgetrek. Lyle Delo het die bal opgeraap en is met die hulp van die ervare Anton Smith oor die doellyn gestoomroller."
Beukes sê die keur onder sy voorspelers was die slotte Godwin Mangenje, Anton Smith en Ethan Stuurman. Leegan Moos op losskakel was dodelik met sy skoppe pale toe en hy het altesaam 15 punte aangeteken. Hy bly maar 'n wedstrydwenner.
Charles Goede (vleuel) en Jordan Beukes (senter), wat as speler van die wedstryd aangewys is, het ook geskitter.
Vir Bridgton het sy losskakel Winfrey Stoffels uithalerspel gelewer.
George Herald het na Bridgton se hoofafrigter en voorsitter uitgereik vir kommentaar, maar kon niemand in die hande kry nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’