OUDTSHOORN NUUS - Dysselsdorp Rangers se eerste span het Saterdag 26 Julie op sy tuisveld daarin geslaag om die omgekrapte span van Glen Roses, Avontuur, naelskraap met 23 - 19 te klop.
Die Rangers was rustyd 13 - 16 agter.
Die wedstryd was gekenmerk deur lekker opwindende hardlooprugby aan albei kante. Daar was ook talle hanteerfoute.
Albei spanne het twee drieë elk gedruk. Met slegs vier minute speeltyd oor het Glen Roses met 19 - 16 voorgeloop en die toeskouers aan beide kante, het hul spanne luidkeels aangemoedig.
Die wil om te wen by Dysselsdorp Rangers was aan die einde dringender en Onivagho de Jongh (vleuel) het in die doodsnikke van die wedstryd in die hoekie oorgeduik vir die wendrie en losskakel en kaptein, Desnut Oktober, het uit die hoekie geslaag met 'n skitterende doelskop om aan Rangers 'n oorwinning van 23 - 19 te besorg.
Ander puntemakers vir Rangers was 'n drie deur Tobela Gelant (agtsteman) en Desnut Oktober het met twee doelskoppe en drie strafdoele geslaag.
Rangers se B-span het die B-span van Glen Roses met 41 - 5 afgeransel en het in die proses ses drieë gedruk teenoor die enkele een van Glen Roses. Puntemakers vir Rangers B was twee drieë elk deur Bradley Lewie (flank) en Enrique Coerecius (skrumskakel).
Davestine Esau (vleuel) en Beandre Botha die ander flank, het ook elk 'n drie gedruk.
Romario Ekstraal (heelagter) het 20 punte met die skopskoen aangeteken.
Rangers reis eerskomende naweek na Zoar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’