DYSSELSDORP NUUS - Dysselsdorp Rangers het Saterdag op sy tuisveld 'n wegholsege van 96-12 oor Glenroses van Avontuur behaal in 'n SWD-Karoostreek ligawedstryd.
Rangers het rustyd reeds met 49-0 voorgeloop en na die draaislag die drieë verder ingeryg.
Dysselsdorp het in die proses 14 drieë behaal om die span se drieëtotaal vir die seisoen tot 61 op te stoot.
Vir Dysselsdorp het twee spelers, Deidric Booysen (kaptein en senter) en die jong vleuel, Beandré Botha vier keer gaan druk.
Donnie Makonie (senter) het twee keer gedruk en Davestine Esau (heelagter), Ben Gertse (vleuel) ,Eric Campher (agtsteman) en Jason Jantjies (losskakel) het elk een drie aangeteken.
Esau het 12 van die drieë verdoel vir ‘n persoonlike bydrae van 29 punte. Gertse het ook met ‘n doelskop geslaag..
Dit was Dysselsdorp se grootste oorwinning hierdie seisoen, na hulle Kango United vroeër met 66-5 kafgedraf het.
Volgens die klub se hoofafrigter, Arnold Claassen, het die klub se keurders heelwat jong spelers kans gegee om hul staal te wys.
"Die manne het hul kanse aangegryp en skitterend gespeel. Die jong haker Chris Prins, die twee stutte Adrian Piedt en Chris Jaftha het meer as hul kant gebring."
Ander uitblinkers was voorlangs André Fredericks (slot), Peet Samson (slot), Cheslin Saptou (flank) en Eric Campher (agtsteman) Agterlangs het Botha, Jantjies, Esau en Booysen ook uitstekend vertoon.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'