OUDTSHOORN NUUS - Collegians van Oudtshoorn het Saterdag in 'n spanningsvolle A-liga-rugbykragmeting met slegs een punt daarin geslaag om die besoekers van Plettenbergbaai, Jaguars, met 32 - 31 te klop.
Jaguars, wat verlede seisoen in die Superliga gespeel het, het van meet af aan met vuur gespeel en binne die eerste vyf minute twee verdoelde drieë gaan druk om met 14 - 0 voor te loop.
Collegians het wakker geskrik en gou begin terugveg met drieë van Denzel Masete, Roberto Botha en hul binnesenter, om rustyd met 24 - 17 voor te loop.
Die tweede helfte was ewe spanningsvol. Jaguars het hulle nie van stryk laat bring nie en het weer momentum gekry met 'n drie en drie strafdoele wat hulle laat voorloop het met 31 - 27.
Collegians het egter vasgebyt.
In die laaste minuut van die wedstryd het hulle 'n bal binne Jaguars se kwartgebied gesteel en ná sterk skrumwerk het binnesenter Willem Goliath deurgedruk vir die wendrie in die hoekie. Die drie is nie verdoel nie, maar het genoeg punte opgelewer om die wedstryd met 32 - 31 te beklink.
Puntemakers:
Drieë: Denzel Masete, Roberto Botha, Qeun Lukas, Willem Goliath en Marlin Jaars, elkeen een drie.
Doelskoppe: Roberto Botha en Keeton-Lee Green elkeen een.
Strafskop: Roberto Botha een.
Collegians se B-span het die B-span van Jaguars met 24-14 gewen.
Dit was 'n aanskoulike wedstryd wat die skare terdeë geniet het.
Collegians reis eerskomende Saterdag, 10 Mei na Brandwag waar hulle teen Happy Hearts gaan kragte meet.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’