Gallery
OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Bridgton Sekondêr se 0.19 rugby A-span het gistermiddag op die Bridgton-sportterrein die besoekende All Saint Anglican skool van Australië in 'n opwindende wedstryd met 26-23 geklop.
Die wedstryd was in goeie gees gespeel en talle inwoners en skoliere het die stadion volgepak. Twee van Bridgton se drie spelers wat onlangs gekies is om in Brittanje met die Rhino-span in September te gaan toer, Diego Daniels en Ayden Kiewiets, was ook deel van dié span.
Daniels het ook gister die span as kaptein aangevoer.
Albei spanne het aanskoulike hardlooprugby gespeel met die besoekers wat twee vinnige drieë in die eerste 15 minute gedruk het. Bridgton het egter teruggeveg om te verseker dat beide spanne teen rustyd met 12 punte elk gelykop was. Bridgton het egter in die tweede helfde die krane oopgedraai en na willekeur gapings in die All Saints se verdediginglinie begin vind.
Aksie op die rugbyveld.
Die All Saints het moedig bly veg tot die einde en was beloon met 'n drie in die hoekie, maar teen daardie tyd het Bridgton se ondersteuners al die vreugdevure aan die brand gesteek.
In 'n voorwedstryd het Hoërskool Protea se 0.14 rugby A-span verras deur Bridgton se 0.14 span met 12-10 te klop.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'