OUDTSHOORN NUUS - Die A-span van Bridgton-rugbyklub se treurmare vanjaar het die afgelope naweek voortgeduur toe hulle vir die negende keer van die seisoen in 'n SWD Super A-ligawedstryd verloor het.
Die span het teen Groot-Brak-rugbyklub op die Bridgton-sportterrein gespeel waar hulle behoorlik met 20 - 3 getroef is. Bridgton se B (11 - 15) en C-span (15 - 11) het nie veel beter gevaar nie en het ook beide vasgeval.
Hierdie swak resultaat beteken dat Bridgton na 16 weke in die liga die sewende posisie op die algehele punteleer met 35 punte beklee.
Uit 'n totaal van 16 wedstryde kon Bridgton tot dusver slegs sewe wen. Die topvier spanne op die punteleer is die onoorwonne Crusaders (73), Heidelberg (67), Progress (58) en Evergreens (53).
Volgens Kevin Pikaan, hoofafrigter van die Bridgton se A-span kan sy span se rits swak vertonings die afgelope ruk toegeskryf word aan swak kondisionering van die spelers.
"Kyk, ons soek nie verskonings vir ons teleurstellende resultate nie, maar dit moet ook in ag geneem word dat Covid-19 ons hard geslaan het toe daar geen wedstryde en oefeninge plaasgevind het nie. Die manne is stelselmatig besig om weer topvorm te bereik, so ek is positief dat ons wel die bordjies kan verhang. Nog 'n aspek is die feit dat ons heelwat sleutelspelers aan beserings afgestaan het wat beteken dat baie jong en onervare spelers nou teen hardebaarde in die topliga vir die eerste keer in hul rugbyloopbaan gespeel het.
Die gemiddelde ouderdom van ons spelers is tans 31 wat 'n bietjie aan die ou kant is. Dis duidelik dat ons nou in 'n herbouproses is sodat ons soos in 2017, weer die halfeindstryd kan haal en selfs met die beker kan wegstap as ons tot ons volle potensiaal speel."
Pikaan, wat ook 'n voormalige speler van die klub is, sê dat dit vanjaar sy eerste proesel as afrigter is en dat dit 'n baie leersame proses vir hom is.
"Ek is aangestel vir die volgende drie jaar en ek het reeds vir die spelers gesê dat ons probleme teen volgende jaar opgelos behoort te wees. Vir nou is ons fokus om Saterdag se wedstryd teen Blanco van George op die Oudtshoorn-sportterrein te wen en om die ondersteuners te bedank wat die klub deur dik en dun bygestaan het."
Bridgton het slegs 'n wiskundige kans om die halfeindwedstryde te haal mits hulle die laaste ses wedstryde teen Blanco, Jaguars, Progress, Crusaders, Eagle Stars en Heidelberg kan wen. Enige bonuspunte vir vier driee en meer, sal letterlik 'n bonus wees.
Bradwin Wanies op die aanval. Foto's: Ebenezer Titus
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'