OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Die rugbyloopbaan van die bekende jong sportman van Oudtshoorn, Antonio Bruiners (16), is besig om van krag tot krag te gaan.
Bruiners, 'n leerder verbonde aan Hoërskool Outeniqua, is verlede week gekies vir die SA-oefengroep in sy ouderdomsgroep nadat hy verlede jaar ook sy o.16-SA elite kleure verwerf het.
In 2019 het hy ook sy eie rekord in die 100 m-hekkies by die Spar Kwaggas Top-10-atletiekbyeenkoms gebreek. Hy is ook 'n talentvolle krieketspeler wat ook al die SWD o.15-krieketspan gehaal het.
Oor sy sportprestasies wat hy tot dusver bereik het, is Bruiners beskeie. "Ag wat, ek geniet sport oor die algemeen en ek probeer maar net my beste. Dis vir my 'n groot eer om as agterlynspeler vir die elite-rugbygroep gekies te word. Dit beteken dat my kanse om die nasionale o.18-span te haal, veel beter is. As ek konstant goed speel by die opkomende Cravenweek, behoort ek 'n goeie kans te staan om my doelwit te bereik.
"Tot dan is dit boeke-vat-tyd terwyl ek my fiksheidsvlakke handhaaf."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'