SPORTNUUS - Suid-Afrikaners wat deelneem aan die Olimpiese Spele in Japan het teen Dinsdagmiddag, 3 Augustus, daarin geslaag om drie medaljes in watersport te verower. Onder hulle is een goue medalje.
Tatjana Schoenmaker het verlede Vrydag Suid-Afrikaners se harte bly gemaak toe sy 'n goue medalje in die 200 m-borsslag vir vroue verower het.
In die proses het sy ook gesorg dat die wêreldrekord nou agter haar naam pryk. Toe sy die goue gewen het, kon sy reeds spog met 'n silwermedalje in 100 m-borsslag wat sy in dieselfde week verower het.
Op Dinsdag 27 Julie het Bianca Buitendag 'n silwermedalje in die vroueafdeling vir branderplankry gewen. Dit was die eerste keer dat branderplankry as Olimpiese Sport aangebied is.
Schoenmaker (24) is van Pretoria en Buitendag (27) van Victoriabaai naby George.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'