OUDTSHOORN SPORTNUUS - Die Oudtshoorn-gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF) en die Oudtshoorn-munisipaliteit se sportprogram in Oudtshoorn stoom tans voort nadat dit begin November van stapel gestuur is.
Hierdie sportprogram behels dat kinders elke Sondag in kompeterende netbal, sokker en krieketwedstryde meeding.
Volgens Phillip Seroux projekbestuurder van die GPF, is die hoofdoel van die sportprogram om die misdaad in sektor 2 aan te spreek wat die hoogte ingeskiet het. Dis ook, volgens hom, 'n doeltreffende manier om die jeug se fokus gedurende die skoolvakansie op sport te kanaliseer.
Die program sal tot aan die einde van die komende skoolvakansie duur. In verlede Sondag se krieketwedstryde het die o. 15-vlakkiekrieketspanne van die Legends en Silvertown mekaar by die oop stuk veld langs die Bridgton-kliniek gepak.
Die Legends het eerste gekolf en 96 lopies in hul toegelate 20 boulbeurte aangeteken.
Silvertown se span is in hul kolfbeurt vir 79 lopies uitgeknikker wat aan die Legends 'n oorwinning van 17 lopies besorg het. Oswald Agulhas was die Legends se beste speler, terwyl Miquel Abrahams met die kolf- en bal vir Silvertown uitgeblink het.
Die sokkerwedstryde wat Sondag by die oop stuk veld in Dassieveld gespeel is, het vurige spel opgelewer. Athletico Madrid is met drie doele teenoor nul deur die Legends-span met die kous oor die kop huis toe gestuur. Athletico het egter die bordjies teen die Smartie Town-span verhang en hulle met vier doele teenoor nul geslag.
Geen netbalwedstryde was die afgelope gespeel nie. Diè wedstryde sal egter eerskomende Sondag hervat word wanneer Silvertown, Nasorgsentrum, Knight en Legends teen mekaar sal meeding.
Speler van Athletico Madrid-sokkerspan dribbel met die bal. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'