Update
OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se sportfasiliteite is besig om meer te raak. Die nuutste toevoeging om die dorp die Suid-Kaap se sportmekka te maak, is 'n BMX-baan by die Toekomsrus-gemeenskapsaal.
Die BMX-baan is Sondag 26 November amptelik deur die Wes-Kaapse minister van sport en kultuur, Anroux Marais, geopen.
Marais het dit as 'n heuglike dag beskryf.
"Dit het 'n absolute hoogtepunt in my amp geword wanneer ons as sportbelanghebbendes bymekaar kom om sportontwikkeling en deelname in die Wes-Kaap te verhoog.
"Vandag se bekendstelling van die nuwe BMX-baanfasiliteit op Oudtshoorn, is só 'n heuglike geleentheid."
Marais het na die baan as 'n nuutgestigte juweel verwys.
Burgemeester Colan Sylvester, het verduidelik dat die baan, soos dit nou daarna uitsien, slegs fase een is. "Soos geld beskikbaar raak, sal ons met fase 2 begin en die baan uitbrei."
Met die opening van die BMX-baan is van links: Jean Neethling (departement sport en kultuur: Eden), Anroux Marais (Wes-Kaapse minister van sport en kultuur), Johan Fourie (portefeuljeraadslid tegniese dienste), Hendrik Ruiters (portefeuljeraadslid gemeenskapsdienste), Colan Sylvester (uitvoerende burgemeester) en raadslid Jerome Lambatjeen.
Die baan het ongeveer R500 000 gekos. R140 000 daarvan is deur die Wes-Kaapse regering geskenk.
Sylvester het gesê die munisipaliteit, in samewerking met die Eden-sportraad, streef daarna om Oudtshoorn die hoofkwartier vir sportgebeurtenisse in die Suid-Kaap en Tuinroete te maak.
"Ons beskik reeds oor twee Olimpiese standaard swembaddens, die SWD-kriekethoofkwartier, die De Jager-sportkompleks en atletiekbaan en talle fietsry-attraksies."
Lees 'n vorige artikel: BMX baan op Oudtshoorn geopen
ARTIKEL & FOTO'S: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'