DE RUST NUUS - Die bestuur van die Meiringspoort Challenge het vandag, 7 Mei, aangekondig dat vanjaar se uitdaging gekanselleer is.
Hulle het bevestig dat die Meiringspoort Challenge nie kan voortgaan nie weens die onlangse swaar reënval en oorstromings in die gebied.
Volgens die bestuur bly die veiligheid van deelnemers, ondersteuners en die organiseerderspan die hoogste prioriteit.
“Groot dele van die roetes is weggespoel en verskeie gedeeltes van Meiringspoort het ernstige skade opgedoen, wat dit onveilig maak om die geleentheid aan te bied. Ons harte is swaar ná maande se voorbereiding en opgewondenheid, maar veiligheid moet eerste kom,” lui die verklaring.
Verdere kommunikasie rakende registrasies, moontlike terugbetalings en die opsie om donasies te maak, sal binnekort aan deelnemers gekommunikeer word.
Die organiseerders het deelnemers en ondersteuners bedank vir hul begrip, ondersteuning en geduld gedurende hierdie uitdagende omstandighede.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’