OUDTSHOORN NUUS - Die 13-jarige Lea Olivier, 'n leerder van Langenhoven Gimnasium, het van 3 tot 7 Junie aan die Wêreldhondeskou in Italië deelgeneem waar sy Suid-Afrika as die land se amptelike verteenwoordiger in die o. 18-afdeling vir hondehanteerders deelgeneem het.
Sy het met haar byna 3-jarige jakkalshond (foxhound), Cinders, deelgeneem. Cinders is afkomstig van 'n teler in Australië, Brigitte Bryson.
Volgens Lea bring die kompetisie die nasionale kampioene van verskeie lande bymekaar.
"Elke land kies een hanteerder onder die ouderdom van 18 jaar om hul land op die wêreldverhoog te verteenwoordig. Dit was vir my 'n groot eer en voorreg om Suid-Afrika teen die ander deelnemende lande te verteenwoordig," het sy gesê.
Sy beskryf die standaard van die kompetisie as uiters hoog en sê dit was 'n besondere ervaring om saam met die wêreld se beste junior hondehanteerders mee te ding.
"Ek het baie geleer, waardevolle ervaring opgedoen en nuwe vriende gemaak wat dieselfde passie vir honde deel," het sy gesê.
Hierdie was haar tweede geleent-heid om Suid-Afrika by die Wêreld-kampioenskap vir o. 18-hanteerders te verteenwoordig.
"Omdat ek vanjaar weer die nasionale titel gewen het, sal ek Suid-Afrika volgende jaar weer by die Wêreldhondeskou verteenwoordig en ook die geleentheid kry om aan Crufts deel te neem." Crufts is een van die grootste wêreldhondeskoue wat jaarliks in Birmingham, Engeland, aangebied word.
Om vir dié elite-kompetisie in aan-merking te kom moet deelnemers aan verskeie skoue deur die jaar deelneem. Professionele internasionale beoordelaars beoordeel die deelname. Lea se gesogte toekenning versterk haar status in die hondehanteerdergemeenskap.
Lea Olivier en Cinders tydens die kompetisie. Foto: verskaf
Agtergrond
Lea word groot op 'n plaas buite Oudtshoorn en het 'n ongelooflike insig vir die band tussen mens en dier. Volgens haar ma, Lorish, het sy reeds op die ouderdom van vyf begin om honde te skou met die ondersteuning van haar familie wat 'n passie het vir die sport.
Lea het 'n toegewyde ondersteuningspan wat haar ma Lorish, haar pa Willie, en broer Boas, asook afrigters Carol Immelman van Suid-Afrika en Gerhard Schultz van Australië, insluit. "Sonder hulle sou ek nie kon deelneem en die prestasies wat ek behaal het, behaal nie."
Die KUSA (Kennel Union of South Africa) nasionale kompetisie lig nie slegs die ongelooflike band tussen die honde en hul hanteerders uit nie, maar ook die gevoel van familie tussen hondeliefhebbers regoor Suid-Afrika.
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’