OUDTSHOORN NUUS _ 'n Leerder van Laerskool Wesbank, Lea Olivier (12), het die afgelope naweek met die louere weggestap tydens die KUSA (Kennel Union of South Africa) se nasionale hondehanteerderskompetisie in Suid-Afrika.
Sy is een van die jongste deelnemers en het die gesogte titel as die KUSA Nasionale Junior Hanteerder van die Jaar vir die tweede jaar in 'n ry ingepalm.
Die gesogte KUSA nasionale kompetisie het in Kaapstad plaasgevind. Honderde honde en hul hanteerders van oor die land het deelgeneem. Dié kompetisie is bekend vir net die beste deelnemers wat hul talente in die veld ten toon stel.
Om vir dié elite-kompetisie in aanmerking te kom moet deelnemers aan verskeie hondeskoue deur die jaar deelneem. Professionele internasionale beoordelaars beoordeel die deelname.
Olivier se gesogte toekenning versterk haar status in die hondehanteerder-gemeenskap.
Dit gee ook aan haar geleentheid om Suid-Afrika by die Crufts Dog Show in Birmingham, in Engeland in Maart 2026 te verteenwoordig asook die Wêreldhondeskou in Bologna, Italië in Junie 2026. Intussen vertrek sy in Augustus na Helsinki in Finland om Suid-Afrika as die 2025-kampioen te verteenwoordig.
Lea word groot op 'n plaas buite Oudtshoorn en het 'n ongelooflike insig vir die band tussen mens en dier. Volgens haar ma, Lorish, het sy reeds op die ouderdom van vyf begin om honde te skou met die ondersteuning van haar familie wat 'n passie het vir die sport.
Volgens Lea was haar wen die jaar beslis 'n hoogtepunt van haar skouloopbaan. Sy erken dat die kompetisie straf was en dat sy baie hard moes werk om teen wêreldklashanteerders en hul uitsonderlike honde deel te neem.
Lea is ook dankbaar vir haar skool se onbaatsugtige ondersteuning, en veral om haar die tyd te gun om deel te neem, asook om te kan reis na die onderskeie skoue.
"Ek is ook dankbaar vir telers soos Brigitte Bryson van Australië wat haar pragtige jakkalshond (foxhound), Cinders, aan my toevertrou het en waarmee ons die jaar se kompetisie kafgedraf het. Verder is daar ook Maria Afanasyeva van Rusland wat haar Australiese skaaphond, D gestuur het, asook die Suid-Afrikaanse telers wat my heeltyd ondersteun het."
Lea nadat sy gewen het. Foto: Belle Lumiere Foto
Lea het 'n toegewyde ondersteuningspan wat haar ma Lorish, haar pa Willie en broer Boas, asook afrigters Carol Immelman van Suid-Afrika en Gerhard Schultz van Australië, insluit. "Sonder hulle sou ek nie kon deelneem en die prestasies wat ek behaal het, behaal nie."
Die KUSA nasionale kompetisie lig nie slegs die ongelooflike band tussen die honde en hul hanteerders uit nie, maar ook die gevoel van familie tussen hondeliefhebbers regoor Suid-Afrika.
Lea sien nou uit na die internasionale kompetisie en is 'n voorbeeld van uitsonderlike talent en toewyding wat met die sport gepaardgaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’