OUDTSHOORN NUUS - Van George tot die wêreldverhoog. Kittie Terblanche (45), 'n oudleerder van Langenhoven Gimnasium, se merkwaardige toutrekloopbaan het haar nou 'n kandidaat vir een van dié sport se hoogste individuele eerbewyse gemaak.
Terblanche, wat al meer as 'n dekade lank Suid-Afrika op die internasionale toutrekverhoog verteenwoordig, is genomineer as Suid-Afrika se kandidaat vir die Internasionale Toutrekfederasie (TWIF) se Vroue-atleet van die Jaar.
Die wenner word op 18 September tydens die wêreldtoutrekkampioenskappe in Hartenbos aangekondig.
Terblanche, 'n ma van twee, sê sy trek nie net met haar hande nie, "ek trek met my hart, my passie vir hierdie sport en geloof in myself en my spanmaats".
"Vir my gaan dit titel, Atleet van die Jaar, nie oor die meeste medaljes nie, maar oor wie jy deur jou voorbeeld kan inspireer. Dit gaan daaroor om te wys wat moontlik is wanneer jy bereid is om opofferings te maak, dissipline te hê en nooit tou op te gooi nie.
"As voltydse werknemer, ma en toutrekatleet verg dit baie om alles te balanseer. Tussen werk, gesin, oefening en herstel is daar min ruimte vir verskonings. Dit is nie altyd maklik nie, maar ek maak elke dag die keuse om my sport ernstig op te neem en my beste te lewer."
Sy sê toutrek het haar geleer dat individuele talent alleen nie genoeg is nie. "Sukses word gebou op spanwerk, vertroue, dissipline en die vermoë om onder druk saam te staan.
"Om my provinsie en land op provinsiale, nasionale en internasionale vlak te verteenwoordig, is 'n voorreg. Elke kompetisie, oorwinning en teleurstelling het my gevorm, sterker gemaak en my gemotiveer om steeds hoër te mik."
Die pad tot internasionale toutrekverhoog
Terblanche se internasionale loopbaan sluit medaljes by die wêreldklubkampioenskappe, wêreldkampioenskappe en Wêreldspele in.
Sy het in 2011 'n bronsmedalje by die wêreldklubkampioenskappe in Engeland verower, gevolg deur brons by die wêreldkampioenskappe in Skotland in 2012 en die Wêreldspele in Cali, Colombië, in 2013.
In 2014 het sy nog 'n bronsmedalje by die binnenshuise wêreldkampioenskappe in Ierland verower, terwyl sy in 2017 weer brons by die Wêreldspele in Wrocaw, Pole, behaal het.
Van 2011 tot 2024 is Terblanche vir die Suid-Afrikaanse nasionale toutrekspan gekies vir binnenshuise en buitelugkompetisies.
Nadat sy 'n blaaskans van mededingende sport geneem het om haar kinders groot te maak, het sy in 2024 'n terugkeer gemaak en is sy weer by die wêreldkampioenskappe in Mannheim, Duitsland, vir Suid-Afrika gekies.
Vroeër vanjaar het sy ook die Suid-Afrikaanse kampioen in beide die 500 kg- en 540 kg-vrouekategorieë geword.
Sy het ook verskeie leierskap- en verteen-woordigende rolle beklee, onder meer by die TWIF-atletekommissie, die Wes-Kaapse Toutrekfederasie en Eden-sportraad.
Sy dien tans as kommunikasiebeampte van die SA Toutrekfederasie en as atleetverteenwoordiger by SASCOC.
Hoe om te stem
Lesers kan vir Terblanche stem deur TWIF se Facebook-blad te besoek en die plasing oor haar nominasie opspoor of deur die QR-kode in die artikel te skandeer. Daarna moet hulle:
• Van die plasing hou (Like).
• Die plasing deel (Share).
• TWIF se Facebook-blad volg (Follow)
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’