ROLBAL NUUS - Hulle is nog bloedjonk, maar van rolbal kan jy hulle min vertel. Ontmoet Donne Dempsey (11), Jané Pretorius (12) en Kaila Steyn (13) wat die Eden o. 15-span by die nasionale rolbalkompetisie vanaf Saterdag 1 April in Bloemfontein gaan verteenwoordig. Altesame 20 distrikte vanoor die land gaan daar meeding.
Al drie is leerders van Laerskool Outeniqua. Dit sal die tweede keer wees dat Kaila aan die kompetisie deelneem. Donne is die jongste lid van die Eden-span en het net minder as nege maande gelede eers begin rolbalspeel.
Al drie is baie opgewonde om in Bloemfontein te gaan speel. Hulle hoop om eendag vir die Proteas te speel en beskou dit nie net as 'n sport vir bejaarde mense nie.
Kaila vertel dat sy oorspronklik van Oudtshoorn kom en dat sy op sesjarige ouderdom begin speel het.
Die rolbalgogga het gebyt toe sy saam met haar oupa, Ockie Steyn, gaan kyk het hoe die grootmense rolbalspeel. Sy het baie daarvan gehou en by 'n klub begin speel. Sedertdien kyk sy net vorentoe. Sy speel merendeels teen ouer mense.
Volgens haar lyk die sport maklik, maar dit is nie. Dis 'n baie tegniese sport. Sy oefen twee keer per week - een en 'n halfuur op 'n slag. Sy sal graag lewenslank aan die sport wil deelneem.
Jané het vertel dat haar pa, Jan, rolbal gespeel het. Dis deur sy toedoen dat sy sowat twee jaar gelede betrokke geraak het. Volgens haar moet 'n goeie rolbalspeler kan konsentreer.
Donne het gesê dit was haar ma, Pennie, wat haar geïnspireer het om rolbal te speel. Haar tannie en ma speel rolbal. As mens kan konsentreer kan mens dit geniet. Sy het dit as 'n komplekse sport beskryf. Sommige dae is dit maklik en ander dae is dit moeilik. Hoe jonger mens begin speel, hoe beter.
Buiten die skoolwerk en die rolbal het sy 'n vol program. Sy neem ook deel aan ballet, netbal, koor, sanglesse en atletiek.
Volgens Daphne Faber, afrigter van die span, het al drie beslis natuurlike talent. Dis nie 'n moeilike sport om te leer as 'n mens 'n aanvoeling vir balsport het nie.
Volgens haar is daar 'n magdom van jongmense wat aan die sport deelneem.
Kaila Steyn (13), Jané Pretorius (12), Donne Dempsey (11) en Daphne Faber, afrigter van die o. 15 Eden-rolbalspan. Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’