OUDTSHOORN NUUS - Fietsryers van jonk tot oud sal Sondag, 6 September, weer Oudtshoorn invaar wanneer die tweede jaarlikse Build It Fietstoer aangebied word.
Die geleentheid, wat verlede jaar vir die eerste keer aangebied is, bied vanjaar ’n aantal nuwe toevoegings en sal by die Ostrich Emporium in Rademeyerstraat begin.
Deelnemers kan aan ’n 130 km-, 42 km- of 10 km-roete deelneem. Die 130 km-wedren is ’n kwalifiserende byeenkoms vir die Kaapstad Fietstoer, terwyl die korter afstande vir deelnemers aangebied word wat bloot vir die pret en die ervaring wil saamry.
Benewens die gewone pryse en toekennings in verskillende kategorieë, word verskeie nuwe toekennings vanjaar bekend gestel om die gees van fietsry en deelname te vier.
Die Aanhouer Wen-toekenning sal aan die laaste deelnemer oorhandig word wat die 130 km-wedren voltooi, terwyl die Gees van Fietsry-toekenning vir die oudste voltooier bestem is.
Die Torque Titan-toekenning sal aan die swaarste voltooier toegeken word en die Jonggeweer-toekenning aan die jongste deelnemer wat die wedren voltooi.
Volgens die organiseerders gaan die fietstoer oor meer as net spoed en kompetisie, maar ook oor vasberadenheid, passie, deursettingsvermoë en die genot van fietsry.
Registrasie vind op Saterdag, 5 September, van 17:00 tot 19:00 plaas, asook op Sondagoggend, 6 September, van 05:30 tot 07:00 by die Ostrich Emporium, 15 Rademeyerstraat.
Die fietsryer spring om 07:30 weg en sal met die Welgeluk-pad langs ry.
Die prysuitdeling vind om 13:00 by die Ostrich Emporium plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’