OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Elephants-hokkieklub gaan hierdie jaar vir die eerste keer aan die nasionale kampioenskappe later in die jaar deelneem.
Die klub se juniorspan het die afgelope naweek 'n hokkiekliniek by die De Jager-sportkompleks bygewoon om hul tegnieke te verfyn.
Volgens John Dalton, is die klinieke belangrik om te sien dat elke speler se sterk punte na vore kom, en hulle reg is vir enige uitdaging.
"Binnenshuise hokkie groei ongelooflik, maar ons soek toewyding van spelers, asook ouers. Die juniors wat nou begin kan 'n groot impak op hokkie vorentoe maak, die spanne is sterker as hulle vroeg begin."
De Wilton Lombard, mede-eienaar van die Oudtshoorn Elephants noem dat daar tans die George Elephants, Knysna Elephants en Oudtshoorn Elephants-klubs is.
"Ek moet beklemtoon dat binnenshuise hokkie uitstekend is vir skole se vordering, en om kinders sterker te maak. Jy kan duidelik die verskil sien aan kinders wat binnenshuise hokkie speel teenoor gewone skoolhokkie. "
Nadine Huges, bemarker vir die Elephants vertel dat hoe meer kinders aansluit hoe goedkoper word die sport.
"Baie mense dink dit is te duur om aan te sluit, maar hul het 'n wanindruk. Ouers moet verstaan dat daar heelwat voordele is soos prestasie erkenning by skole, asook afslag op skoolgelde, dit verbeter hokkievaardighede, en enige kind op enige vaardigheidsvlak kan aansluit."
Die klub fokus om binnenshuise hokkie te bevorder, asook om vaardighede van spelers te verskerp.
Kinders wat belangstel om by die Oudtshoorn Elephants aan te sluit kan Huges kontak by 082 0593 734. Spelers van alle vlakke is welkom.
Vorige berigte:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’