OUDTSHOORN NUUS - Die eerste binnenshuise hokkie-oefening het Vrydag 12 Julie by die De Jager-sportkompleks plaasgevind en voornemende spelers was bevoorreg om die hoofafrigter van die SA binnenshuise vrouehokkiespan, AJ Spieringshoek, te ontmoet.
Die klub staan bekend as PSi Oudtshoorn Elephants, en is 'n geaffilieerde van PSi Knysna Elephants.
Heelwat leerders het opgedaag om hul vernuf op 'n vinniger oppervlak te toets. Die oefeninge word steeds elke Vrydag aangebied.
Spieringshoek het ook ander belangrike rolspelers soos burgemeester Chris Macpherson, Abri Ferreira, voorsitter van die besigheidskamer en Corleen Barnard, bestuurder van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor ontmoet.
Om te registreer kan die volgende webtuiste besoek word: https://princesshockey.co.za/pages/clinic
Groot hokkiekliniek op pad
In Augustus word 'n Wêreldbeker-keurkamp in Oudtshoorn aangebied waar die spelers gekies gaan word wat die land volgende jaar in die wêreldbeker gaan verteenwoordig.
Spieringshoek het gesê tydens die kamp wil hy die span takties en tegnies voorberei vir die eise van die wêreldbeker.
"Ons sal ons opposisie ken, en dus sal ons behoorlike ontleding sowel as wedstrydspesifieke voorbereiding volgens ons opposisie kan doen. Ons hoop ook om by te dra tot die ontwikkeling van hokkie in die groter Oudtshoorn-area deur klinieke vir kinders van skole aan te bied. Ons sal dit elke dag doen."
Hy het verder gesê dat hulle ook liefdadigheidswerk by plaaslike skuilings of stigtings beplan en werksessies deur die dag te hou om afrigters en administrateurs te verbeter.
Saam met hulle toernooi, beplan hulle ook 'n skoletoernooi wat in Oudtshoorn aangebied gaan word.
"Ons uiteindelike doel is om kennis en vaardighede vir opkomende spelers na te laat."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’